Drie verskillende vriendskappe

Deel hierdie storie / Share this story

Almal van ons heg waarde aan vriendskap. Dit is ’n belangrike aspek in ’n mens se lewe wat deel uitmaak aan wie ons is en waarin ons glo.

’n Griekse filosoof het drie tipe vriendskappe geïdentifiseer – nuttige vriendskappe, plesierige vriendskappe en dieper vriendskappe. Die eerste tipe vriendskap is met die vriend wat die beste uit jou uitbring. Dink aan die maat wat saam met jou vir ’n wedloop sal inskryf of die maat wat jou uitdaag en help om nuwe goed te probeer en te leer. Plesiergebaseerde vriendskappe help jou om lighartig te bly. Hulle is met mense saam met wie jy jou Vrydagaand spandeer. Dinge raak nooit te ernstig in hierdie vriendskap nie. Hierdie vriende daag jou uit om die lewe te geniet.

Uiteindelik kry ’n mens die dieper vriendskappe. Hierdie vriendskappe kom slegs ’n paar keer in jou lewensduur voor. Jy waardeer jou maat se sterk- en swakpunte en jy deel ’n sterk band van vertroue met daai persoon. Diegene huiwer nie om met jou oor die dieper dinge van die lewe te gesels nie. Hulle daag jou uit om dieper te delf sodat jy die beste weergawe van jouself kan wees.

Om vriende te maak, kan moeilik wees. Die ‘’dieper vriendskappe’’ is nog meer uitdagend om te maak, maar die soektog na hierdie vriende is beslis die moeite werd.