Boere moedeloos oor onwettige jagters se streke

Deel hierdie storie / Share this story

“Dis nie ons grond nie, maar ons maak maar elke keer die vuur dood omdat ons bang is die brand kom tot op ons plase,” sê een van die boere net buite Kimberley. Die veld op Droogtefontein, ’n plaas net buite Kimberley, brand al sedert vanoggend 09:00.

Hy vertel hoe onwettige jagters die boere in die omliggende area se lewens moeilik maak. “Wanneer hulle nie van die vee gesteel kan kry nie, steek hulle die veld aan die brand om die vee uit die veld te jaag om dan te kan vang. Daar het nou al meer 1 500 ha afgebrand.”

“Ons wild en kleinwild word uitgeroei. Ons kalfies word uitgeroei. Maar omdat die grond aan die Sonplaas-gemeenskap behoort, kan die polisie niks aan die saak doen nie. Ons het dit al by die polisie gerapporteer. En die brandweer raak ook moeg daarvoor om elke dan en wan te kom vure blus.”

Ntanti Sephiri, woordvoerder vir die brandweer, sê hulle is bewus van die situasie en het ’n paar keer al die brande geblus. “Ons het egter nog nie vanoggend ’n oproep ontvang van ’n brand nie.”