Drie Adamantia-leerlinge het vanjaar aan die ATKV se Digipraat-projek, wat aanlyn plaasgevind het, deelgeneem.
Ané Claassens en Annchen de Lange het beide ‘n A-simbool in die Afrikaanse oorredingstoespraak ontvang. Lefran Smith het in die Afrikaanse oorredingstoespraak, Vermaaklikheidstoespraak asook in die Tweetalige oorredingstoespraak ‘n A++-simbool ontvang.
Ons gesels ‘n bietjie met Lefran Smith (16) oor haar ervaring om aan dié kompetisie deel te neem.
Sy sê dat alhoewel dit nie die eerste keer was wat sy aan ‘n soortgelyke aanlyn kompetisie deelgeneem het nie, was dit die eerste van die ATKV waaraan sy deelgeneem het. Die vorige twee aanlyn kompetisies waaraan sy deelgeneem het, was Oppi Tong Af en Radikaal, wat beide vanjaar aanlyn gehou is te midde van die staat van inperking in die land.
Die deelnemers moes hulle toesprake vir elke afdeling vooraf in video-formaat opneem en teen 1 Julie instuur.
Lefran het in die graad 10 tot graad 12-afdeling deelgeneem.
Die onderwerp vir haar Afrikaanse oorredingstoespraak was “Moenie laat vrees jou vreugde vreet nie”, vir haar vermaaklikheidstoespraak het sy “Skoolkarakters” gekies en vir die tweetalige oorredingstoespraak “Mengels is die taal van die toekoms”.
“Dit was ‘n baie lekker ervaring en ek sal dit enige tyd weer doen. Al wat bietjie sleg is van dié tipe kompetisies, is dat ‘n mens net die gehoor se reaksie op sekere dele van jou toespraak mis,” vertel sy.




