Graad 1-juffrou in die hospitaal

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Die geliefde graad 1-juffrou, Elisma Swanepoel (37), is gister in die Gariep MediClinic opgeneem. Haar pa, Kat Swanepoel, sê sy het verlede Woensdag begin siek voel en is Donderdag met lyfseer en verkouesimpome dokter toe.

Haar dokter het vir haar medikasie voorgeskryf, maar hulle kon nie van die medikasie in enige apteek kry nie.

“Toe sy gister opgeneem is, het sy ’n drup en kortisooninspuitings gekry. Hulle wag nog vir haar toetsuitslae. Haar dokter het gesê hy is nie eintlik tevrede met haar bloedtelling nie, maar sal haar ongelukkig môre moet ontslaan indien haar toestand nie versleg het nie,” vertel hy.

Haar dokter het haar die Donderdag gebel om te sê sy moet haarself eerder vir Covid-19 laat toets. Sy het Vrydag haar toetsuitslae gekry en dit was positief. Sy het sedert verlede week selfisoleer. Haar pa vertel hoe hy en haar ma vir haar goedjies by die hek neergesit het. “Sy het haarself omtrent afgesonder.”

Sy het baie skielik baie siek begin raak. “Sy het genoem dat haar bors brand en haar lyf seer is. Sy het gister gesê sy sukkel om asem te haal,” vertel haar pa.

“Ek voel vreeslik siek, maar as ek so rondom my kyk, voel ek eintlik geseënd en gesond.”

– Elisma Swanepoel

“Ek sou graag wou hê dat sy nog ’n paar dae in die hospitaal bly, maar wat kan ’n mens nou doen? Die dokter het gesê hy sal haar met die nodige medikasie huis toe stuur.” Kat en haar ma beplan om haar in ’n woonstel op hulle perseel te laat bly sodra sy die hospitaal verlaat. Hy sê hulle sal haar nie saam met hulle in die huis laat bly nie, want sy moet tog steeds selfisoleer. “Ons sal maar net hier wees om ’n ogie oor haar te hou.”