Verskunsvreugde maak my moedig

Dit is nie altyd maklik om te midde van moeilike omstandighede positiewe energie uit te straal nie. Een ding wat die korona-virus baie duidelik vir ons gewys het, is dat daar groot gapings is tussen bevoorregtes en dié wat minder bevoorreg is. Zebulon Kock is ʼn gr. 12-leerder van Sekondêre Skool Charleston Hill, in die Paarl, wat aan sy lyf gevoel het hoe die inperking as gevolg van Covid-19 sy gesin raak. Sy pa, ʼn skoonmaker, se inkomste is ook nie gewaarborg tydens die inperking nie. Soms is daar nie kos op die tafel nie. Dit beteken ook dat hy nie noodwendig toegang tot tegnologie en internet het nie.

Hierdie positiewe jongman gee egter nie moed op nie. Vir Zebulon lê die ontvlugting in die skryfkuns en in die besonder digkuns en as mens na sy gedigte kyk, kan jy sy liefde vir Afrikaans daarin lees. Zebulon was nege jaar oud toe hy begin het om gediggies te skryf. Aardse weelde ken hy nie, maar hy ken die onskatbare rykdom wat woorde bring. Hy sê as hy kon kies, sou hy graag op Stellenbosch wou bly, aangesien daar meer geleenthede is. Zebulon of Zebbie, soos sy vriende hom ken, is ʼn alleenkind.

Rene Scholtz is ʼn vriendin met wie hy sy gedagtes deel. Hy sê sy gunsteling-tydverdryf as kind was om boom te klim. Zebulon is ʼn groot kampvegter vir vroueregte en dit word weerspieël in sy Konnichiwa-gedigte. Hy sê hy vind inspirasie om te dig in die Bybel. Sy gunstelingboek is Spreuke. Hy leer ook baie by digters Francis Grobler en Carma Shaw. Op die oomblik maak hy gebruik van Facebook en digtersgroepe om sy werk bekend te stel. Hy voel sterk oor mense wat plagiaat pleeg en waarsku jong digters daarteen.

Zebulon is deel van die matriekraad, VRL en voorsitter van die leerlingraad. Hy sê Juffrou M. Camper, sy Afrikaanse onderwyser, het ʼn liefde vir Afrikaans in hom aangewakker en hy het sy eie groepie, Affies. Die jongmense in sy omgewing hou hulle meestal besig met sport, maar daar is ook ander wat alkoholiese drank misbruik.

Plae geteisterde Plek

Die plae geteisterde plek van Paarl
is vol knakke en knoetse
en insink hokkies met toegeplakte
vensters is vroueslaners wat
verbryselde trauma aan hul gesinne
toedien; slagoffers van verkrag
se fragmentariese harte huil om te heel,
fnuikend worstel met die pyn
terwyl moordenaars
tot die tong gewapen is
en by hof verhore vlug op vrye voet
soos liggaampies ledig lê by die lykstoet.
Paarl word met donkerte gedreig
en die môremaal van moordenaars
is die onskuldige mens.
©Zebulon Kochk

Leedvry

My rooiborsievoël
met ʼn aanloopsprong
klapwiek jy hoog
verby die rookskrif
van wolke en gee vertroosting
aan my hart se belydenisverse
wat hunker na jou simpatie.
©Zebulon Kochk

Vrybuiter

My kind, jou hare ruik iena
groen sambreelboom blare
daar’s baard op jou are
en vuurhoutjies in jou hare
Ma, hy’t eers fyn tabakblare
met sy dik vingers afgestroop
stadig sy handgerolde zol gerook
en daarna met sy swart sellotape
my rooi lipstiffie gespoil
hy’t my niks betaal vir my sexual toil
©Zebulon Kochk

Geskryf deur Ansie Nel. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *