Prinses dra koningin se rok en kroon op troudag

Deel hierdie storie / Share this story

Prinses Beatrice, die dogter van prins Andrew en Sarah Ferguson, die hertogin van York en Edoardo Mapelli Mozzi, haar Italiaanse verloofde, het Vrydag die knoop in ’n privaat seremonie deurgehaak. Soos gewoonlik met koninklike troues was al die oë op die bruid se rok, maar dit was nie net die bruid se rok wat mense se aandag getrek het nie.

Die kroon wat op die prinses se kop was, het die koppe laat draai.

Beatrice het ’n antieke rok deur wyle Norman Hartnell, ’n bekende Britse mode-ontwerper, veral bekend vir sy werk vir die dames van die koninklike familie, gedra. Die koningin, Beatrice se ouma, het die rok vir die eerste keer in 1962 gedra en het dit vir Beatrice geleen vir die groot dag. Sy het ’n diamantkroon, wat in 1919 uit ’n halssnoer gemaak is, gedra. Die halssnoer is aan die koningin as trougeskenk gegee.

Die koningin het die kroon op haar eie troudag in 1947 gedra.