Plaasaanval: Boer (77) ernstig beseer toe vyf hom aanval

Deel hierdie storie / Share this story

’n Boer (77) is Vrydagaand op sy plaas op Buffelsfontein naby Komagas in die Noord-Kaap deur vyf verdagtes aangeval.

Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê alhoewel die inligitng nog min is, is dit bekend dat die man deur die aanvallers oorval is toe hy sy deur oopgemaak het na sy krag afgesit is.

“Die verdagtes het die boer met ’n vuurwapen gedreig en hy het glo op sy kop en aan sy gesig beserings opgedoen. Die polisie kon tot dusver nog nie vasstel of die verdagtes iets gesteel het nie,” sê kapt. Kock.

Die boer is na ’n nabygeleë hospitaal geneem om sy beserings te behandel.

Kapt. Kock sê geen verdagtes is tot dusver in hegtenis geneem nie en enigiemand met inligting kan vir speurder a.o. Marlon Fielding by 082 448 6642 kontak.