Hier is jou kans om ’n anonieme vraag oor jou verhouding te vra. Stuur jou anonieme vraag na [email protected].
Anonieme lesersvraag:
Ek en my kêrel is al twaalf jaar lank saam. Ek het nou so ses maande gelede geboorte aan ’n pragtige babaseuntjie geskenk. Vandat Boetie gebore is, is dit asof die pa net nie meer worry oor ons nie. Hy werk elke aand uit en slaap oor. Hy laat weet my nie eers waar hy is en wat sy planne is nie. Hy het eenvoudig net nie meer tyd vir ons nie. Ek sê nie ek is onskuldig nie; ek het ook foute, maar is dit te veel gevra dat hy by die huis moet wees en tyd saam sy kind deurbring?
Dan is daar nog die kwessie van hom wat sy foon wegsteek. Ek dink net ek en Boetie verdien meer as dit.
Antwoord:
Jy sal ernstig met jou kêrel moet sit en gesels. Jy sal by hom moet hoor presies hoekom hy optree soos wat hy doen. Jy sal hom reguit moet vra hoekom hy nie by die huis wil wees nie. Ek kan verstaan hoekom jy onseker is. Indien jy met hom gepraat het en niks verander nie, sal jy moet besluit of jy die res van jou lewe so wil lewe en of jy wil wegstap. Almal verdien om geliefd te voel.



