Hier is jou kans om ’n anonieme vraag oor jou verhouding te vra. Stuur jou anonieme vraag na [email protected].
Anonieme lesersvraag:
Ek is drie jaar getroud. Ons het ’n pragtige 8-jarige dogtertjie en ’n seuntjie wat in November twee word. Hulle is albei my hart se punt. Ek werk op die myn en verlaat soggens die huis om 4:30 en kom weer 17:00 by die huis. Ek begin dan om kos te maak, kosblikke vir die vrou en kinders te pak en alles reg te kry vir die aand en volgende dag. Sy kom ongeveer 18:00 by die huis. Soggens trek ek ook haar kar uit die garage en laai die skooltasse ens. vir haar voor ek werk toe gaan. Ons het ’n bediende wat ook die huis deur die dag skoonmaak. My vraag is – my vrou is elke dag muslik of kort van draad met my wanneer sy by die huis kom. Ek probeer my best om alles te doen, maar dit voel net nooit goed genoeg nie. Huidiglik voel ek uitgebrand en wil net gaan, want daar is niks van haar kant af nie. Ek kan ook nie met haar hieroor praat nie, want sy het altyd 20 000 verskonings en redes vir so wees. Daar is geen meer emosionele konneksie nie. Moedeloos.
Antwoord:
Jy sê nie watter tipe werk sy doen nie. Gewoonlik wanneer mens ongelukkig in een aspek van jou lewe is, spoel dit oor na die res. Dalk is sy baie ongelukkig by die werk.
Mense wys ook liefde op verskillende maniere. Dalk voel sy sy wil op ’n ander manier liefde gewys hê. Soos byvoorbeeld om blomme of klein geskenkies te ontvang.
Die beste sal wees om oop en eerlik hieroor te gesels. As julle nie daaroor kan gesels nie, sal die beste wees om by ’n berader uit te kom wat julle sal kan help om kommunikasielyne oop te maak.



