Pretoria – Vyf mense is dood en 40 in hegtenis geneem toe ’n skietery omstreeks 03:00 by ’n kerk hier plaasgevind het. Vier mense is in ’n motor doodgeskiet en doodgebrand, terwyl ’n vyfde slagoffer, ’n veiligheidswag, ook noodlottig in sy motor geskiet is.
Skietery en gyselaarsituasie
Brig. Vishnu Naidoo, polisiewoordvoerder, sê die polisie het reageer op ’n skietery en beweerde gyselaarsituasie by die International Pentecostal Holiness Church in Zuurbekom.
Konflik tussen partye
“’n Groep gewapende mense het die Metodiste-kerk binnegekom en na bewering mense wat binne was, aangeval en aangedui dat hulle die perseel gaan oorneem. Die polisie ondersoek die moontlikheid dat hierdie aanval gemotiveer is deur konflik tussen partye in die kerk.”
Meer as 40 in hegtenis
Die polisie het meer as 40 verdagtes in hegtenis geneem, waaronder ses mense wat in die hospitaal opgeneem is. Tussen die verdagtes is lede van die SAPD, die SANW, die JMPD en die departement van korrektiewe dienste.
Beslaglegging van vuurwapens
Daar is ook op meer as 34 vuurwapens, waaronder vyf gewere, 16 kortgewere en 13 pistole, beslag gelê.
Die misdaadtoneel word nog ondersoek.



