NOORD-KAAP – Die Magareng-munisipaliteit het Woensdag ‘n noue ontkoming van ‘n kragonderbreking gehad nadat die munisipaliteit tot die laaste nippertjie gewag het om hul betalingsooreenkoms met Eskom te heronderhandel, so sê Grantham Steenkamp, LPW, DA Noord-Kaapse woordvoerder van samewerkende regering.
Ontwrigtings wat kragonderbrekings
“Gegewe die ontwrigtings wat kragonderbrekings in hospitale, besighede en regeringsinstellings meebring en vir individue veroorsaak, het die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap weer ‘n pleidooi aan die LUR van samewerkende regering, Bentley Vass, gerig om te verseker dat die provinsiale regering se steun aan munisipaliteite ten opsigte van hul Eskom-betalingsooreenkomste baie meer prakties van aard word.”
Paniek te dompel
“Dit was heeltemal onnodig om Warrentonse inwoners gister met ‘n vroegoggend kragonderbreking in paniek te dompel, voordat die elektrisiteit ‘n kort ruk later herstel was. Dit dui op swak skuldbestuur en swak kommunikasie deur die munisipaliteit met die nasionale kragprodusent.”
Oudituitkomste
“Hoewel munisipaliteite nie veronderstel is om oppassers te hê nie, het die onlangse oudituitkomste gewys net hoe ondoeltreffend Noord-Kaapse munisipaliteite eintlik is.”
Eskom-betalingsooreenkomste
“Die DA doen dus ‘n beroep op samewerkende regering, as die opsigter van munisipaliteite, om die Eskom-betalingsooreenkomste van alle munisipaliteite in die provinsie fisies te monitor.”
Eskom terug te betaal
“Munisipaliteite moet gedwing word om elektrisiteitbetalings wat deur inwoners en besighede gemaak word, te gebruik om die uitstaande skuld aan Eskom terug te betaal. Dit is skandelik en onaanvaarbaar dat elektrisiteitskoste gereeld deur munisipaliteite ingesamel en gebruik word vir heeltemal onverwante betalings.”
Bewys van betaling
“Terselfdertyd moet munisipaliteite ‘n bewys van betaling na Eskom aan samewerkende regering indien, en as hulle dit nie binne ‘n redelike tyd doen nie, moet samewerkende regering die alarmklokkies laat lui voordat Eskom ‘n kennisgewing van ontkoppeling uitreik. Hoe moeilik kan dit wees vir ‘n amptenaar van samewerkende regering om van haar of sy stoel af te klim en fisies met die onderskeie munisipale bestuurder en finansiële hoof ‘n opvolg te maak ten opsigte van wanbetalings? Druk moet op die amptenary uitgeoefen word totdat die maandelikse paaiement betaal word of die ooreenkoms onderhandel word.”
Aanspreeklik gehou
“Dieselfde munisipale amptenary, of selfs politieke hoofde, wat versuim om die terugbetalings aan Eskom te prioritiseer, moet aanspreeklik gehou word. Hulle moet aan die portefeuljekomitee van die wetgewer gerapporteer word, sodat hulle voor die komitee van samewerkende regering gesleep kan word. Hulle moet aangespreek word en tot verantwoording geroep word.”
“Die voortdurende strategie van samewerkende regering om bloot brande te blus soos en wanneer dit voorkom, is nie volhoubaar nie. Langtermynverandering is nodig om die siklus van wanbetalings te verbreek, om skuld te verminder en om die ligte aan te hou,” sê Steenkamp
•Persverklaring



