Wat van biblioteke?

Deel hierdie storie / Share this story

Kimberley se lesers, net soos lesers wêreldwyd, mis dit geweldig tydens die grendeltyd om boeke te mag uitneem. Daar is min mense so desperaat soos ‘n ywerige leser wat niks het om te lees nie!

FiND iT het met Manda Hough, waarnemende hoofbibliotekaris van die Kimberley-hoofbiblioteek, gepraat oor wat die stand van die agt openbare biblioteke en een navorsingsbiblioteek tans is. 

Biblioteke word voorberei vir heropening

Tans word biblioteke ontsmet en gediepreinig. Soos wat ‘n biblioteek skoon en reg is, gaan die personeel in sarsies (skeleton staff) terug om administratiewe take agter toe deure te verrig. 

Facebook

Elke biblioteek het ‘n Facebook-blad waar lesers op hoogte kan bly van wanneer hulle biblioteek oopmaak – bv. Kimberley Library South Africa, Africana Research Library, Beaconsfield Public Library South Africa, Sonny Leon Library, Judy Scott Library.  Sekere biblioteke, wat reeds skoongemaak is, is reeds van Maandag tot Vrydag van 09:30 tot 12:30 oop vir drop offs.

Aanlyn stories en boekvoorlesings word sedert die begin van inperking daar opgelaai, omdat programme waar groepe moet bymekaarkom nie in die nabye toekoms toegelaat gaan word nie. 

Beperkte diens vanaf 6 Julie

Sekere biblioteke gaan reeds vanaf Maandag 6 Julie ‘n beperkte diens aan die publiek lewer. Slegs die uitneem van boeke en die maak van fotostate gaan toegelaat word. Die publiek sal nie self tussen die rakke kan beweeg nie, maar sal by die uitleentoonbank wag terwyl die personeel die boeke van die rak af gaan haal. Net ‘n beperkte hoeveelheid lesers sal op ‘n gegewe tyd in ‘n biblioteek toegelaat word.

Eers ingee, dan uitneem

Om te verhoed dat lesers in lang rye moet wag, word dit aanbeveel dat hulle eers net hulle boeke terugneem en dan by ‘n volgende geleentheid uitneem. Boetes sal afgehaal word van hulle name, hulle lidmaatskap moet hernu word, en eers daarna sal hulle boeke mag uitneem.

Hoe veilig is dit in die biblioteek?

Die koronavirus bly vir 72 uur op papier, ens. lewe. Dus word die boeke eers vir drie dae “in kwarantyn” geplaas wanneer dit ontvang is. Dis hoekom die publiek nie op dieselfde dag moet boeke terugneem en uitneem nie. Daar moet tyd gegun word vir die “kwarantyn”-proses om afgehandel te word.

Die personeel het almal die nodige persoonlike beskermingstoerusting ontvang en is ook opgelei om die situasie te hanteer. Elkeen se koors word voor werk geneem en ‘n vraelys oor hulle gesondheid ingevul. 

Die publiek sal uiteraard ook aan al die gesondheidsvereistes moet voldoen,

Handontsmetmiddels sal by die screening station sowel as by die toonbank beskikbaar wees. ‘n Spesiale soort oppervlakskoonmaakmiddel word gebruik om werksoppervlaktes te ontsmet. Die toonbank sal byvoorbeeld elke keer skoongemaak word voor die volgende persoon gehelp word.

Diens aan leerlinge en studente

Daar gaan met skole gekommunikeer word om vooraf besonderhede oor skooltake te bekom. Studente kan ook met biblioteke oor hulle navorsingbehoeftes skakel. Sodoende kan die personeel solank die inligting gereed kry sodat die leerlinge en studente dadelik met fotostate gehelp kan word as hulle die biblioteek besoek. Fotostate sal deur personeel gemaak word. Daar sal aanvanklik nie toegelaat word dat persone in die biblioteek sit en navorsing doen, lees of rekenaars gebruik nie. Eers van Vlak 2 af kan dit oorweeg word. Aanvanklik sal daar ‘n beperking wees op die aantal studente wat sit en studeer of navorsing doen ten einde sosiale afstand te handhaaf en almal ‘n kans te gee om van die diens gebruik te maak.

Die toekoms

Manda sê alles sal waarskynlik nie in die toekoms dieselfde wees as voor Covid nie. Ekstra skoonhou van oppervlaktes en die beperking van getalle besoekers sal waarskynlik nog lank gehandhaaf word. Dienste, ook uitbreidingsprogramme, sal meer aanlyn gefokus raak. “Niemand weet regtig wat gaan werk en wat nie. Ek glo dis ’n work-in-progress. Ons sal dit maar aanpas soos wat ons aangaan.”