Daar heers ’n babelse verwarring oor toestemming van swart houtpale wat in Kimberley geplant word. Die maatskappy verantwoordelik vir die pale, Frogfoot, is besig om optiese kabels in Kimberley te lê.
Dié maatskappy, vanaf Kaapstad, het toestemming vanaf die Sol Plaatje-munisipaliteit om die optiese kabels in tradisionele loopgrawe te lê, maar in sommige areas van Kimberley word dié houtpale nou geplant. Dié dokument wat toestemming verleen, met skriftelike voorwaardes, is in FiND iT se besit. Die houtpale is in teenstelling met die toestemming wat vergun is.
Die houtpale word ook voor huise in die historiese bewaringsgebiede van Klisserville, Beaconsfield en Belgravia geplant. Inwoners is ontstoke omdat geen antwoorde oor of daar toestemming vanaf die Erfenisraad ontvang is, gegee kan word nie. FiND iT se navrae het ook geen vrugte afgewerp nie.
Verwys van persoon tot persoon
By navraag aan die projekbestuurder, Jaco van Graan, is aan FiND IT gesê hy is bewus van die ongelukkigheid al “vir ’n maand lank”, veral oor die historiese aspek, maar het FiND iT na die Sol Plaatje-munisipaliteit verwys.
Thoko Riet, woordvoerder vir die Sol Plaatje-munisipaliteit, het FiND iT na Renier Meyer, by Frogfoot verwys.
Meyer het FiND iT weer na van Graan verwys.
FiND iT het met ’n kontrakteur wat besig was om loopgrawe te grawe gepraat, wie weer gesê het Frogfoot is bewus van die ongelukkigheid oor die houtpale en dat alle werk daaraan eers gestop is. Hulle sou glo gister (Dinsdag) met die munisipale raad vergader.
Trudi Steyn, Wayleave Manager: Inland, het Dinsdag aan FiND iT gesê sy sal Dinsdag na FiND iT terugkom met antwoorde. FiND iT wou spesifiek weet hoekom daar afgewyk word van die tradisionele loopgraaf-metode en daar nou pale reg rondom Kimberley opgerig word.
Maatskappy het vergadering met raad
Steyn het nie gereageer op vrae wat insluit of dié maatskappy toestemming het om die aansig van ’n historiese bewaringsgebied te verander nie, hoekom die maatskappy nie gebruik maak van die tradisionele loopgraaf-metode, waarvoor hulle toestemming het nie en waarom die inwoners en gemeenskap glad nie betrokke was by die besluit nie.
Kayleigh Rossler, bemarkingspesialis van Frogfoot, het gesê Frogfoot gee aandag aan die kwessies wat FiND iT geopper het. “Sodra ons ‘n verklaring het en toestemming het, sal ons terugvoer gee. Ons het vergaderings met die (Sol Plaatje) munisipale raad gehad, asook intern. Ons neem dit baie ernstig op.”
“Geen paal voor my huis”
Van dié pale is ook reg langsaan huise opgerig. “Ek het die pale gemeet. Die paal is nie eens 40cm van my muur af nie! Hoe is dit veilig?”
’n Ander inwoner, wat ’n gastehuis vanuit dié historiese bewaararea bedryf, sê hy het ’n klag gelê. “Frogfoot het my geantwoord en gesê die Sol Plaatje-munisipaliteit het, tesame met Frogfoot, besluit dit is meer ‘eties’ om die kabels aan die pale vas te sit. Hierdie areas, tesame met ander aantreklikhede, word vernoem in Sol Plaatje se beplanningsdokumente en dit behoort beskerm te word deur behoorlike beheer.
“Die persoon wat my geantwoord het, Christine McInroy, wie aan die hoof is van klagtes, het inteendeel vir my gesê optiese kabels is die toekoms van die nuwe internet. Tot watter koste? Wie sê ons wil van hulle gebruik maak?”
Nog ’n inwoner sê daar is aan haar gesê Kimberley word as ’n “pilot projek” gebruik. “So ons is nou so agteraf, ons sal nie agterkom as mense ons dorp vervuil nie!? Hoekom gaan probeer hulle nie hulle nuwe metodes in hulle eie areas, by hulle eie huise nie? Geen paal sal voor my huis staan nie.”
Tradisionele manier glo te duur
Nog ’n inwoner sê een van die werkers het aan haar gesê dit is te duur om loopgrawe oral te grawe en die projek sal nie betyds klaar wees as hulle dié tradisionele metode volg nie.
Inwoners sê hulle gaan nie die pale voor hulle huise toelaat nie. “Gedeeltes van Kimberley het stegies agter hulle huise, waarom gebruik hulle dit nie? Waarom reg voor huise, wat ons al jare beskerm om by te dra tot Kimberley se erfenis? Dis absurd.”
Petisie
Ockie Fourie, DA-raadslid, sê inwoners is besig om ’n petisie op te stel en dreig om ’n dringende interdik by die hooggeregshof te bekom.



