Man kry 20 jaar tronkstraf ná hy minderjarige verkrag

Deel hierdie storie / Share this story

PETRUSVILLE – ’n Man (21) is vandag tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die verkragting van ’n 11-jarige seuntjie.

Die slagoffer was op 30 Julie 2017 besig om saam met sy vriende in ’n veld te speel, toe die man hom weggeneem en verkrag het, sê brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder.

Die verdagte was vir die slagoffer onbekend ten tye van die verkragting maar die toegewydheid van sers. Serati van die De Aar polisie-eenheid het gelei tot die man se inhegtenisname in Januarie 2019. Die man is deur ‘n foto-parade geïdentifiseer.

Borgtog is volgens brig Ramatseba suksesvol teëgestaan en hy is gister in die Petrusville-hof skuldig bevind en tot 20 jaar tronkstraf gevonnis.