Hier is jou kans om ’n anonieme vraag oor jou verhouding te vra. Stuur jou anonieme vraag na [email protected].
Anonieme lesersvraag:
Goeiedag,
Wat kan ek doen as my verloofde spasie en tyd nodig het om oor als te dink? Ons is al deur so baie, die bom het gebars. Sy sê ek is te veel omdat ek haar vra hoekom sy nie meer sê sy is lief vir my nie en dat ek haar die hele tyd vra wat maak sy en ek probeer net aandag soek. Sy is onder druk met haar werk en die kids. Ons bly nie meer saam nie omdat ons ons huis verloor het en ek tans sonder werk sit. Ek weet ek het van werk tot werk gespring, maar omdat, ek ’n beter lewe vir haar wil gee, maar ek dink ek het als opgeneuk. Hoe kan ek haar terugwen? Ek het haar nog nooit verneuk nie en was al baie lelik met haar, emosioneel al afgekraak, maar ek weet wat ek gedoen het, is verkeerd. Ek mis haar, maar sy is baie koud teenoor my. Help asseblief.
Antwoord:
Anoniem, eerste wil ek net sê dat jy nie iemand kan forseer om vir jou lief te wees nie. Jy sê self jy het haar emosioneel afgekraak en mishandel. Met elke lelike woord het haar hart al hoe harder teenoor jou geword. Jy kan nie verwag sy moet eweskielik weer lief en sag teenoor jou wees omdat jy jou fout besef het nie. Jy gaan vir haar tyd en spasie moet gee. Jy sal ook aan haar moet bewys dat jy verander het. Jy moet dit nie net sê nie, maar ook in aksie omsit. Gee haar soveel ruimte soos wat sy nodig het en herinner haar kort-kort dat jy haar lief het en mis sonder om iets terug te verwag. Wanneer sy sien jy het regtig verander, sal sy jou dalk nog ’n kans gee. Onthou ook net dat die skade reeds gedoen is en sy dalk besluit om eerder aan te beweeg.



