NOORD- KAAP. – “Solidariteit het vanoggend kennis gekry dat die saak van die Solidariteit Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) teen die departement van maatskaplike ontwikkeling oor die heropening van kleuterskole en dagsorgsentrums nie meer in die ope hof aangehoor gaan word nie.” so sê Marisa Engelbrecht,
Beroepsgilde Sektorhoof.
Kennis strek
Regter Fabricius, wat die saak bereg, sal slegs van die hofstukke soos deur die betrokke partye aan hom verskaf, gebruik maak. Geen mondelingse argumente sal dus oor die saak in die hof aangevoer word nie. Sover as wat Solidariteit se kennis strek, is geen opponerende verklarings tot dusver deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ingedien nie.
Geen vasgestelde datums
Die Solidariteit Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers en die SOS het die hof genader omdat daar steeds geen vasgestelde datum is vir die heropening van privaat kleuterskole en dagsorgsentrums nie; dít terwyl die departement van basiese onderwys se datums vir die heropening van skole, wat departementele kleuterskole insluit, reeds bekendgemaak is.
“Dit is ʼn verligting dat die saak uiteindelik voor die regter sal dien,” sê Marisa Engelbrecht, sektorhoof van die Solidariteit Beroepsgilde vir maatskaplike werkers. “Deur sy stilswye ignoreer die departement die noodkreet van hierdie sektor. Deur die saak na die hof te verwys, dwing ons die departement nou om daarop te reageer. Dit is die departement se plig om in die beste belang van ons kinders op te tree; nie om deur hul optrede kinders van hul regte te ontneem nie,” sluit Engelbrecht af.



