Arno Visagie, een van die 2019-deelnemers aan Boer soek ’n vrou, het nou liefde gevind, maar nie by ’n ander boer nie…
Die realiteitsprogram Boer soek ’n vrou op kykNET het in 2019 geskiedenis gemaak toe die eerste gay boer, Damian, op die program verwelkom is.
Damian (39) is ’n skaap- en beesboer van Bapsfontein in Gauteng. Hy het vir die realiteitsprogram ingeskryf omdat hy ‘net ’n normale ou wat van die plaaslewe hou’ soek. Hy het die meeste briewe van die publiek ontvang toe hy op die program verskyn het en een van die briewe was van Arno Visagie.
Visagie was onder die top drie finaliste wat dit tot op die plaas gemaak het. Hy het egter nie die liefde waarop hy gehoop het, by boer Damian gevind nie en het gesê: “Dit was ’n ongelooflike avontuur en vir boer Damian wens ek net die beste toe.”
Visagie het agt weke gelede die pleegouer geword van ’n babaseuntjie, Alexander. “Alexander is nou so twee maande oud en so mooi. Ek kan nie ophou foto’s neem en babaklere koop nie,” het ’n opgewonde Visagie onlangs vertel. Hy sê sy ouers is pleegouers van sy boetie en sy sussie en hy het van kleins af geweet hy wil ook eendag ’n pleegouer word.
Alexander se ma kon hom nie versorg nie en hulle het gehoor hulle soek vir hom ’n pleegouer, vertel Visagie. Hy het ingestem.



