Het jy geweet jy kan meer met Coke doen as dit net drink? Van kolle uit jou klere haal tot hoender gaarmaak. Hier is ’n paar idees vir wat jy alles met jou bottel Coke kan doen.
Vat die jeuk weg
Wanneer dit voel asof die muskiete jou opvreet, gebruik die blikkie Coke in jou yskas om van daardie irriterende brandjeuk ontslae te raak.

Genees jou hik
Om te hik, kan baie irriterend raak. Sommige mense wag geduldig tot dit oorwaai, maar as jy te ongeduldig is, neem volgende keer ’n groot sluk Coke en spoel jou mond daarmee. Gorrel dit vir ’n paar sekondes en jou hik sal verdwyn.

Verwyder oliekolle uit jou klere
Jy mag dalk bang wees dat gaskoeldrank jou klere permanent kan vlek, maar Coke werk op ’n wonderbaarlike manier. Voor jy jou klere in die wasmasjien sit, gooi ’n bietjie Coke op die vetkol en laat dit vir ’n paar minute staan. Gooi sommer die res van die Coke in die wasmasjien.

Maak jou toiletbak silwerskoon
Niemand is mal daaroor om die toilet skoon te maak nie. Met Coke kan dit egter een van jou gunstelingtake word. Gooi bloot die inhoud van ’n blikkie Coke in die toilet en laat dit vir 20 minute na ’n uur staan. Spoel net die toilet en siedaar!

Kunsmis vir jou plante
Coke kan as kunsmis vir jou plante gebruik word. Gooi Coke op die wortels van jou plante en kyk hoe hulle groei.

Kougom-verwyderaar
Het jy geweet jy kan Coke gebruik om kougom wat in jou hare vassit, te verwyder? Dis nie nodig om die lok af te sny nie. Gooi ’n bietjie Coke in ’n glas en laat hang die lok in die glas. Ná ‘n paar minute sal die kougom maklik verwyder kan word.

Maak jou juwele en munte skoon
As jy ’n muntstuk of van jou juweliersware wil laat blink, gooi ’n bietjie Coke in ’n bakkie en laat staan jou muntstukke oornag daarin.




