‘Premier moet ingryp by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal’

Deel hierdie storie / Share this story

Die Demokratiese Alliansie (DA) doen ‘n beroep op premier Zamani Saul om dringend by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (RMS) in Kimberley in te gryp.

Fawzia Rhoda, DA Noord-Kaapse woordvoerder van finansies en ekonomiese ontwikkeling, sê “kruidenierswinkels bied beter voorsorg teen die koronavirus as die provinsie se enigste tersiêre gesondheidsfasiliteit.”

Rhoda sê sy het die naweek ‘n naasbestaande na die ongevalle-afdeling by dié hospitaal geneem en daarna die persoon na die ortopediese eenheid van die hospitaal vergesel. “Ek het ‘n ernstige gebrek aan gesondheidsriglyne by die fasiliteit gewaar.”

“Daar is hoegenaamd geen sifting gedoen nie en lede van die publiek is toegelaat om vrylik in die hospitaal te beweeg. In teenstelling met die voorsorg wat winkelsentrums tref, is ons hande nie tydens ons besoek met reinigers bespuit nie en ons is ook nooit versoek om vorms in te vul wat die fasiliteit met kontakopsporing kan help nie. Ons temperatuur is ook nie geneem nie.”

Sy sê sy moes persoonlik by die administrasietoonbank om ontsmettingsmiddels vra, aangesien dit nie sigbaar of vrylik beskikbaar was vir lede van die publiek nie. Dar was ook nie seep en toiletpapier in die badkamers nie.

“Sekuriteits- en ander personeel het ook nie toegesien dat pasiënte die korrekte maatskaplike afstande handhaaf nie. Terselfdertyd is daar ook geen poging aangewend om sitplekke volgens korrekte afstande te plaas nie en sitplekreëlings het dus nie aan die afstandnorme voldoen nie.

“Drie portiers, wat verantwoordelik is vir die vervoer van pasiënte in rolstoele, kon ook gesien word waar hul byna bo-op mekaar in ‘n hokkie sit. Slegs een van die portiers het sy masker gedra.

“Ek moes ook die onbeskofte houding van ‘n verpleegsuster verduur terwyl ‘n sekuriteitswag daarop aangedring het dat ek moet gaan sit. Dit was ten spyte van vrae oor wanneer laas die wagarea, insluitend die sitplekke, eintlik ordentlik skoongemaak was.”

Sy sê die DA is bekommerd oor die blatante miskenning van die gesondheidsregulasies in die hospitaal te midde van die pandemie.

“Hospitale is in die voorste linie van die oorlog teen die koronavirus. Daar word verwag dat hulle sentrums van uitnemendheid sal wees in die nakoming van riglyne om gesondheidswerkers en hul pasiënte te beskerm.

“Wat ek Saterdag gesien het, dui egter op die teenoorgestelde. Die RMS-hospitaal nooi die verspreiding van die virus binne sy eie mure uit. Dit stel die gesondheid van dokters, verpleegkundiges en ander gesondheidsdienspersoneel en die lewens van pasiënte in gevaar.”

 Die DA het aan premier Saul geskryf om ons bevindings aan hom te rapporteer. Hy moet ons kommer as ‘n dringende saak ondersoek. Die duisende mense wat afhanklik is van openbare gesondheidsorgdienste in die Noord-Kaap kan nie bekostig dat ‘n giftige mengsel van nalatigheid, wanbestuur en selfvoldaanheid ‘n broeines van koronaviruskieme by hierdie hospitaal skep nie.

“Die DA sal ons bevindinge opvolg met toekomstige oorsiginspeksies by die RMS-hospitaal en ander gesondheidsfasiliteite, om te bepaal of ons kommer aangespreek word en om die nakoming van voorkomende riglyne by ander gesondheidsfasiliteite vas te stel.

“Ons het ook parlementêre vrae aan die LUR vir gesondheid, Mase Manopole, gerig om onder meer vas te stel hoe gereeld die wagareas vir gesondheidsorg, insluitend sitplekke, ontsmet word.

“Anders as ander staatsdepartemente, is die departement van gesondheid vrygestel van die verpligte herprioritisering van die begroting vir goedere en dienste. Dit behoort dus meer te doen, en nie minder nie, om die verspreiding van die koronavirus te bekamp.”

FiND iT het Lebogang Mahaja, van die departement van gesondheid, vir kommentaar genader en wag vir terugvoer.

Die wagarea
Sekuriteitswagte sonder maskers
Die badkamers