Die Noord-Kaapse departement van onderwys is uiteindelik gereed om die 19 skole wat nie op die vasgestelde datums heropen het nie, te heropen, sê Geoffrey van der Merwe, woordvoerder vir die LUR van die departement van onderwys in die Noord-Kaap.
Alhoewel meeste van die skole in die Noord-Kaap op 8 Junie heropen het, het 19 skole in die Pixley ka Seme-distrik nie oopgemaak nie. Die rede vir dié skole wat toe gebly het, was die tempo waarteen Covid-19-infeksies in dié gebied aangemeld is.
Beide die LUR van onderwys en gesondheid het vergader om die impak wat Covid-19 op die leerlinge en onderwysers het, te bespreek. Na deeglike oorweging het hulle besluit om die skole te heropen.
Die skole moet egter steeds voldoen aan die gesondheidsvereistes wat deur die minister van gesondheid uiteengesit is.
Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, en lede van die uitvoerende raad sal die heropening van die skole op 17 Junie monitor.



