“Dit was net bloed” sê slagoffer

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Charmaine Calitz (51) en haar dogter Chaindré (24), is Maandag 8 Junie 2020 omstreeks 18:15 by ’n OTM by Absa-bank in Bultfonteinweg beroof.

Charmaine vertel sy en haar twee dogters het na 18:00 geld gaan bank en oorbetalings gedoen. “My dogter het gesien ’n man kom staan agter my en wou nie die tellers langs my gebruik nie. Sy het uitgeklim en ook daar kom staan. Daar het ’n tweede man bygekom en my dogter gegryp terwyl die ander een my selfoon en kontant gegryp het.”

Charmaine se laatlam dogter van 14 was in die kar tydens die voorval. “Instink het ons laat terugbaklei. Die een het my op my mond geslaan en die ander een het my dogter se neus gebreek. Dit was net bloed.”

Die mans het in die taxistaanplek se rigting weggehardloop.

Volgens Charmaine het ABSA-bank nie beeldmateriaal van die insident nie en is die sekuriteit net vir die gebou self. “Ek wil hê mense moet weet, sodat hulle hulself kan beskerm.”

Absa-bank wou nie kommentaar oor die voorval lewer nie.

Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n algemene saak van roof nadat ’n vrou by ’n OTM beroof is. “Die slagoffer is Maandag 8 Junie omstreeks 18:50 aangerand en beroof terwyl sy besig was om geld te deponeer. Die onbekende manlike verdagte het met ’n onbekende bedrag kontant en ’n selfoon van die slagoffer gevlug.”

Nog geen verdagtes is in hegtenis geneem nie. Enigiemand met inligting kan die Kimberley-speurders by 082 495 4646 skakel. Die ondersoek duur voort.