Die Noord-Kaap is die enigste provinsie in Suid-Afrika wat nie oor ‘n viroloog beskik nie.
Karmani Chetty, uitvoerende hoof van die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste (NHLS), het dit gister tydens ‘n regstreekse uitsending van ‘n parlementêre komiteevergadering onthul.
Inwoners word geminag
Andrew Louw, leier van die DA in die Noord-Kaap, sê die inwoners van die Noord-Kaap word geminag.
“Aangesien die provinsiale voorkomssyfer van die koronavirus geleidelik styg, is ons bekommerd oor die Noord-Kaap se tekort aan toetsvermoë. Ons doen daarom ‘n beroep op die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, om te verseker dat die NHLS nie verder tyd verspil om hierdie aangeleentheid aan te spreek nie.”
Nie nodig toerusting
Chetty het gister onthul dat die Noord-Kaap nie die nodige toerusting het om polimerase kettingreaksies na te gaan nie. Die kettingreaksies word gebruik om die koronavirus te diagnoseer. Volgens haar is dit weens die feit dat die Noord-Kaap, anders as die ander agt provinsies, nie oor die dienste van ‘n viroloog beskik nie. ‘n Viroloog is verplig om toetse vir die koronavirus af te teken voordat positiewe toetsuitslae bevestig mag word en die gebrek aan ‘n viroloog se dienste belemmer dus die proses.
“Besig met plan”
Volgens Chetty is die NHLS “besig met ‘n plan om ‘n viroloog te kry om die Noord-Kaap te ondersteun”, sodat die NHLS toerusting hier kan kry.
“Terwyl die DA bewus was dat die Noord-Kaapse toetse na die laboratorium in Bloemfontein gestuur word, was ons onder die indruk dat ‘n oplossing reeds onderweg was. Ons is daarom baie teleurgesteld om te verneem dat die Noord-Kaap, soos altyd, nie ernstig opgeneem word nie,” sê Louw.
Lae getal toetse
‘n Onlangse antwoord op ‘n parlementêre vraag dui daarop dat die NHLS slegs 300 laboratoriumtoetse per dag aan die Noord-Kaap toegeken het. “Dit is ‘n baie lae getal.”
Louw sê die feit dat die provinsie ses mobiele laboratoriumvoertuie van die NHLS ontvang het, waarvan slegs twee met Genex-toetsmasjiene toegerus is, bied ook geen vertroosting nie. Tydens ‘n vergadering van die wetgewer se portefeuljekomitee het die departement van gesondheid toegegee dat hierdie masjiene nie baie betroubaar is nie en dat dit eerder vir sifting as vir toetsing gebruik word.
Veroordeel gebrek aan deursigtigheid
“Dit is geen wonder dat herhaalde beloftes deur die LUR vir gesondheid, Mase Manopole, van ‘n massatoetsveldtog in die Noord-Kaap nooit gerealiseer het nie. Hoe kon hulle dit doen? Afgesien van bogenoemde, moet mens die volgende in ag neem: dat daar slegs 100 000 toetsstelle aan die provinsie toegeken is, met ‘n minimum van 50 stelle per fasiliteit; dat distrikte ‘n verdere 10 000 toetsstelle ontvang om fasiliteite se voorraad aan te vul; dat die Noord-Kaapse departement van gesondheid van die begin af slegs pasiënte met ten minste vier van die virussimptome getoets het; en dat die hele land ‘n tekort aan toetsstelle en reagense ervaar?”
Hy sê die DA veroordeel die gebrek aan deursigtigheid rakende die gebrekkige toetsvermoë van die Noord-Kaap, asook die gebrek aan dringendheid waarmee dit hanteer word.
Alarmklokke
Chetty het gister aangekondig dat die NLS die toenemende positiewe gevalle in die Noord-Kaap dophou. “Sekerlik laat dit alarmklokke lui! Die DA doen weer ‘n beroep op dr Mkhize om ‘n besoek aan die Noord-Kaap te beplan om die unieke uitdagings van hierdie provinsie aan te spreek.
“Die Noord-Kaap het moontlik ‘n lae bevolkingsgrootte, maar ons het ook ‘n groot las van siektes en baie hoë vlakke van armoede en wanvoeding, wat ons mense kwesbaar maak vir siektes. Sekerlik verdien hierdie provinsie ook ‘n vegkans om die koronavirus te bekamp?”
Lees nog artikels van FiND iT hier.



