Die Fair Trade Tobacco Association (FITA) sê die regters wat die saak teen die sigaretverbod hanteer, sal vandag 9 Junie die wettige argumente deur die onderskeie partye in dié saak bestudeer. Die saak sal op 10 Junie hervat word.
FITA het ’n saak teen Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, gemaak in ’n poging om die sigaretverbod gedurende vlak drie en vier van inperking in die land te lig.
FITA het ’n professionele mediese verslag as deel van die hofaansoek aan die hof voorgelê. Die verslag dui daarop dat die korttermynsukses van persone wat probeer om op te hou rook sonder die nodige hulp, ’n skrale 4% is.
Die organisasie probeer bewys dat die verbod op die handel in sigarette nié die gewenste verbetering in die gesondheid van Suid-Afrikaners tot gevolg sal hê nie.



