Meisies in park aangeval

PRETORIA. – Drie meisies is glo hier op 30 Mei deur drie mans aangeval terwyl hulle met hulle fietse in die park gery het. 

Een van die meisies, wat nie geïdentifiseer wil word nie om haar en die ander se identiteit te beskerm, sê hulle het tydens die grasieperiode van die vlak 4-inperking op hulle fietse in die Bloukruinpark in Muckleneuk gaan ry. “Dit was 07:00 die oggend.”

Die meisies is 13, 12 en 12 jaar oud.

Van fietse afgestamp

“Ons is deur die mans voorgekeer toe ons op pad was na die uitgang. My een vriendin is van haar fiets afgestamp. Die mans het in haar sakke gevoel, maar kon niks by haar kry nie en het haar uitgelos. My ander vriendin is van haar fiets afgestamp. 

Sy is met ‘n mes gedreig en haar selfoon is gevat.”

Sy vertel syself is ook van haar fiets afgestamp, maar het begin skree. Sy sê die mans het haar vasgehou en haar hande van haar baadjiesakke af probeer wegkry om haar selfoon te vat. “Ek het begin skop toe hulle my teen die heining vasdruk. Hulle het my mond ook toegedruk,”vertel sy. 

Loop net weg

“Ek het my selfoon oorhandig en die mans het weggeloop asof niks gebeur het nie.”

Die meisies het besluit om nie verdere aksie te neem nie. Hulle het die fone laat blok. Hul ouers sê hul het om die waarheid te sê op die oomblik nie gedink om die polisie in te roep nie, dalk omdat dit so onwaarskynlik is dat die tipe ouens gevang sal word, maar in retrospek weet die polisie dalk waar die tipe manne rondhang.

“Dit sal nog tyd neem vir ons om die gebeurtenis te verwerk.”

Geskryf deur Rieneke Wesseloo

Foto: Rieneke Wesseloo

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


The maximum upload file size: 10 MB.
You can upload: image.
Links to YouTube, Facebook, Twitter and other services inserted in the comment text will be automatically embedded.

%d bloggers like this: