Vier maande sonder my man

Deel hierdie storie / Share this story

FiND iT gesels met Gerda van Zyl (28) van Kimberley. Haar man, T.J. van Zyl, werk in Sierra Leone in die buiteland en sy het hom weens die nasionale inperking vier maande laas gesien.

Die paartjie is ’n jaar en agt maande getrou en het nog nie kinders nie.

Hoekom het jy jou man vier maande laas gesien?

“Hy werk in die buiteland. Net voor hy moes huis toe kom, is alle vlugte gestop.”

Hoe hanteer julle dit om so lank van mekaar weg te wees?

“Dit is baie erg. In die begin is dit okei, maar hoe langer dit raak, hoe erger word dit. Oorspronklik was hulle net sewe weke weg van die huis af, dan sou hulle terugkom, maar met die lockdown het hulle planne verander. As ’n mens jouself regmaak vir sewe weke en dit raak vier maande, voel elke dag soos ’n  ewigheid. So dit is maar nie maklik nie, want ons was gewoond om alles saam te doen en dit is die eerste keer wat ons so lank uit mekaar uit is.”

Wat is julle grootste uitdaging?

“Die grootste uitdaging is die feit dat die tyd twee ure verskil, so ons praat minder en dan ook om alleen te slaap en alleen kos te maak.”

Wanneer dink jy gaan julle mekaar weer sien?

“Ons is gelukkig om mekaar binnekort te kan sien. Hulle het Maandag in Johannesburg geland.”

*Nota: FiND iT het die onderhoud gister met Gerda gevoer en sy het vanoggend laat weet dat sy op pad is Johannesburg toe om vir T.J te gaan haal.