Solidariteit dreig met regsaksie teen WVF

Deel hierdie storie / Share this story

Solidariteit het vandag in ’n skrywe aan die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) gedreig met regsaksie indien die WVF nie dringende stappe doen om betalings aan werklose lede behoorlik en betyds te maak nie.

Onvoorsiene uitdagings

Anton van der Bijl, hoof: van arbeidsregsdienste sê “Ons is ten volle bewus van die feit dat die huidige pandemie ʼn buitensporige beperking op die arbeidsmag geplaas het, en dié onvoorsiene uitdagings het die aantal werkloses en aansoekers, wat aansoek doen om werkloosheidsvoordele en finansiële verligting, verhoog,” sê Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit. “Dit is egter met groot kommer dat ons kennis neem van die feit dat die WVF slegs weens administratiewe onoplettendheid op die laaste werksdag van Mei aansoeke vir uitbetalings in daardie maand begin aanvaar het en sodoende ’n onoorkombare agterstand in die uitbetalings geskep het.”

Verduidelik voort

Solidariteit verduidelik voorts dat dit lyk asof daar ’n drastiese toename is in die nie-nakoming van statutêre WVF-verpligtinge van werkgewers, met die bereidwilligheid van die WVF om hierdie nie-nakoming oor te sien.

Eise in ooreenstemming

“Die nie-nakoming, en veral die agterstand, skep onnodige finansiële swaarkry vir werknemers wat reeds finansiële spanning ervaar omdat hulle nie hul salarisse ontvang nie en nou word die uitbetalings van hul WVF-voordele boonop ook vertraag. Dit ondanks die feit dat werkgewers en werknemers lojale bydraers is wat hul eise in ooreenstemming met die voorgeskrewe tydraamwerke en prosedures indien,” verduidelik Van der Bijl.

Solidariteit sal regsaksie teen die kommissaris van die WVF en ander tersaaklike partye neem indien daar nie aan die vereistes voldoen word nie. 

“Indien die leiers van die WVF versuim om hul statutêre en fidusiêre plig teenoor alle belanghebbendes na te kom, sal ons geen ander keuse hê as om voort te gaan met dringende regstappe teen hulle nie. Dit kan onder meer die proses van dringende hofprosedures insluit,” sluit van der Bijl af.