Diewe grawe tonnel tot binne-in drankwinkel

Deel hierdie storie / Share this story

JOHANNESBURG – ’n Shoprite-drankwinkel in Johannesburg het glo deurgeloop onder kriminele wat nie veel langer die verbod op die verkoop van alkohol kon verduur nie en drank ter waarde van R300 000 gesteel het.

Die eienaar van die winkel in Newton Junction het op 29 Mei haar winkel oopgesluit, net om deur ’n gat in die sementvloer van haar perseel verwelkom te word.

Die verdagtes het glo gedurende vlak vier van inperking, toe die koop en verkoop van alkohol onwettig was, besluit om by die winkel in te breek. Hulle het glo van die elektriese en stormwatertonnels gebruik gemaak om ongesiens onder die winkel te kom.

Die sekuriteitskameras wys glo drie verdagtes wat by die tonnel uitklim om ’n groot hoeveelheid drank te neem.

Suid-Afrika het vandag 1 Junie na vlak drie van inperking oorgegaan en drank mag vandag weer verkoop word.