KIMBERLEY – Die inperking in Suid-Afrika beweeg op 1 Junie na vlak drie en baie sektore sal in die vlak heropen. Haar- en skoolheidsalonne is egter van die besighede wat nié gedurende dié vlak hulle deure sal mag open nie.
Carlo Viljoen, ‘n prokureur, verskyn vandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof in die saak teen die regering oor die heropening van salonne gedurende vlak drie.
Johané Barnard (18), inwoner van Kimberley, het voor die inperking van haar huis af vroue se naels gedoen om ‘n ekstra geldjie te verdien.
Sy sê sy kry vreeslik swaar sedert die inperking in Suid-Afrika ingestel is. “Dis moeilik as ‘n mens begroot het vir daardie geldjie gedurende die maand en dit nou skielik nie meer het nie. Daar is baie ander naeltegnikusse en haarkappers, nie net in Kimberley nie, wat ook swaarkry.”
Barnard sou aansoek doen om haar professionele diploma in naelkunde te verwerf, maar sal weens die inperking nou nie die praktiese gedeelte, wat noodsaaklik is om die diploma te verwerf, kan voltooi nie.
“Al wat ons nou kan doen, is om sterk te bly en aan te hou hoop dat ons binnekort weer ons deure sal kan oopmaak. Ek hoop hierdie hofsaak sal dinge vir almal van ons verander.”



