KIMBERLEY – Die Dierebeskermingsvereniging in Kimberley sê 50% van hulle hokkepersoneel moes gedurende die inperking op die perseel bly om na die diere om te sien.
Alet Steyn van die DBV sê hulle werk hard daaraan om die aanneming van hondjies en katjies weer vir Kimberliete moontlik te maak.
Daar was in die afgelope tyd ’n redelike toename in die aantal persone wat hulle diere aan die DBV oorgeteken het. Redes hiervoor wissel van diere wat te stout of te oud is, of die koste om na ’n dier om te sien.
Steyn sê daar word in dié stadium slegs lede van die gemeenskap wat verlore diere inbring of hulle vermiste diere kom haal, by die DBV toegelaat. Die DBV help egter steeds diegene wat kwalifiseer vir gesubsidideerde mediese hulp vir diere, soos pensionarisse.
Volgens Steyn is katte- en hondekos altyd ’n noodsaaklikheid, maar veral in die winter verwelkom die DBV ekstra komberse vir die diere.
“Omdat ons nie markdae of fondsinsamelings kan hou nie, ervaar ons tans ’n geweldige afname in finansiële steun. Dis vir ons ’n groot bron van kommer,” sê Steyn.
Gedurende werksure, kontak die DBV by 053 831 7625
Na ure of op naweke, kontak hulle by 082 376 7679
Die DBV het ’n koskrat by Monument Spar en Samy’s Wholesalers. Hulle het ook geldblikkies by verskeie winkels in Kimberley.
Indien iemand ’n finansiële donasie wil maak, stuur ’n e-pos aan [email protected] om die bankbesonderhede te kry.



