Vier in Barkley-Wes-hof oor dagga-klag

Deel hierdie storie / Share this story

DELPORTSHOOP – Twee mans is gister hier vir diefstal en die handel van dagga in hegtenis geneem.

Brig. Mohale Ramatseba, polisie-woordvoerder, sê die polisie het die verdagtes opgespoor nadat ‘n saak van gewapende roof gerapporteer is. Die verdagtes het na bewering ‘n man naby Longlands bygedam en hom van besittings en ‘n onbekende bedrag aan kontant beroof.

Vroeër die week het dieselfde mans glo ‘n ander man aangehou wat naby Longlands geloop het en gedreig om hom met messe te vermoor. Dié man is ook beroof. Die verdagtes het glo daarna op die vlug geslaan.

Ná die inhegtenisneming het die polisie ‘n huis deursoek waar die verdagtes vermoedelik weggekruip het. Ramatseba sê versteekte dagga ter waarde van R7 000 is gevind.

‘n Verdere twee verdagtes is daarna op aanklag van die besit van dagga in hegtenis geneem.

Die vier mans verskyn na verwagting vandag in Barkley-Wes se landdroshof.