Die eerste groep leerlinge wat op 1 Junie na skole sal terugkeer, is graad 7’s en graad 12’s, het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, gisteraand in haar toespraak gesê.
Minister Motshekga het gister die nasioanel koronavirus-raad se besluit ten opsigte van die heropening van skole bekendgemaak.
Die res van die land se leerlinge sal stadig maar seker ook weer begin skoolgaan.
Onderwysers sal na verwagtig op 25 Mei na skole terugkeer om te begin voorberei vir die skooljaar.
“Die verslae wat die departement van onderwys ontvang het, wys dat die nodige voorbereiding gedoen is en dat goeie vordering gemaak is,” sê minister Motshekga.
Die aflewering van handreinigers, maskers en water sal voor die heropening van die skole plaasvind. Die departement sal ook seker maak dat geen skole sonder watervoorraad voortgaan nie.
Die aangepaste skoolkalender sal binnekort bekendgemaak word, sê sy. “Die departement van onderwys sal met alle provinsies saamwerk om seker te maak geen skool word agtergelaat nie.”
Die minister sê die departement sal van innoverende metodes gebruik maak om op te maak vir die verlore tyd.
Daar sal volgens die minister geen sportaktiwiteite plaasvind nie. Sy sê dié tipe aktiwiteite verhoog die kans vir die virus om te versprei. “Ná klasse, behoort kinders direk na hulle huise terug te keer.”



