“Niemand dra maskers nie en almal bondel!”

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – “My gesin van ses is nou sonder kospakkies. Dit bloot omdat ek geweier het om in die bondel mense sonder maskers te gaan staan!”

Só sê Crista Reed, inwoner van Diamond Park in Kimberley.

Volgens Reed is daar vanoggend kospakkies in haar omgewing uitgedeel, maar was sy eerder versigtig en het sy haarself nie by die bondel mense aangesluit nie.

“Dit was omtrent iets verskriklik. Nie een het ‘n masker aangehad nie. Daar was geen sosiale distansiëring nie en ek het geen ander keuse gehad as om eerder huis toe te kom nie. Die kospakkies sou aanvanklik van deur-tot-deur afgelewer word. Ek het hier by my huis kom wag, maar het steeds niks ontvang nie,” sê sy.

Ockie Fourie, DA-raadslid, sê die inwoners voel baie verontreg omdat hulle voel hulle word benadeel. Sommiges sê hulle kry baie swaar en hulle name is op lyste geskryf, maar hulle het steeds geen kospakkies gekry nie.

“Ek voel persoonlik daar behoort nog ten minste 100 of 200 kospakkies in die Beaconsfield gebied uitgedeel te word. Die nood is ongelooflik groot en die inwoners is baie ongelukkig,” sê Fourie