Kimberley-ma se dogter veilig terug in SA

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – “Ek is so bly dat my dogter darem nou ‘n bietjie nader aan my is. Al is dit nog twee weke voordat ek haar weer sien,” sê Petro de Beer oor haar dogter, Louisa, wat nou vir twee weke in Kaapstad in kwarantyn is.

De Beer se seun is nog op ‘n vakansieboot in Italië, waar hy as ‘n sekuriteitsbeampte werk.

“My dogter is in Januarie vanjaar al weg om op die Princess Island-vakansieboot as kelnerin te gaan werk. Toe die koronavirus uitbreek en die inperkings regoor die wêreld begin, het sommige van die passasiers op die bote die geleentheid gekry om na hulle tuislande terug te keer.”

De Beer sê haar dogter het maar op die skip vriende gemaak. Die Suid-Afrikaners wat op die vakansiebote gewerk het, het bymekaargekom en is almal op een skip na Kaapstad geneem. De Beer sê in dié tydperk wat haar dogter na die Kaap gereis het, was hulle op die skip al in kwarantyn geplaas. Nou dat haar dogter in Kaapstad aangekom het, moet sy egter steeds vir twee weke in ‘n hotel in kwarantyn bly voordat sy na Kimberley kan terugkeer.

“Ek voel soveel beter nou dat ek weet sy is darem nader aan my,” sê die besorgde ma.

De Beer se seun, Hendrik, het weer besluit om sy kontrak as sekuriteitsbeampte op ‘n vakansieboot klaar te maak voordat hy na sy tuisdorp terugkeer.

De Beer sê sy voel gerusgestel en is nie té bekommerd oor hom nie. Hy vertel hoe dit voel asof hulle in ‘n laboratorium werk.

“Hulle is van kop tot tone toe met die beskermende pakke wat hulle aanhet. Hulle moet bandjies om hul arms dra om te wys dat hulle buite die kamers op die skip mag rondbeweeg. Hulle koors word twee keer per dag geneem en hulle word gereeld getoets.”