Die eerste sterfte weens die koronavirus is in die Noord-Kaap bevestig. Die oorledene is ‘n 60-jarige vrou wat in ‘n hospitaal in Jan-Kempdorp opgeneem was.
Lebogang Majaha, woordvoerder vir die LUR van die departement van gesondheid in die Noord-Kaap, sê die oorledene is weens hartversaking in die hospitaal opgeneem. Die oorledene het onlangs buite die provinsie gereis en is toe getoets vir Covid-19. Die laboratorium-toetse het positief teruggekom.
Die hospitaal in Jan-Kempdorp het volgens Majaha toegemaak en personeellede en ander pasiënte se monsters is ook geneem om getoets te word.
Verder sê Majaha daar het tot dusver 37 persone positief getoets vir die virus, waarvan 27 genees is en 1 oorlede is.



