Onbevestig: vrou dalk dood aan Covid-19

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP. – Dis is nie duidelik of die dood van ’n vrou van hier as gevolg van Covid-19 is nie.

Lebogang Majaha, provinsiale woordvoerder vir die departement van gesondheid, sê hy kan bevestig ’n vrou van Jan Kempdorp is met Covid-19 simptome na ’n hospitaal in Kimberley oorgeplaas, waar sy oorlede is.

Kan nie sê watter hospitaal

Majaha kon nie sê na watter hospitaal in Kimberley die vrou oorgeplaas is nie, omdat dit nog nie bevestig is dat sy wel aan Covid-19 dood is nie. Sy is op 11 Mei oorlede. Kimberley het drie hospitale: die Robert Mangaliso Sebukwe-hospitaal, Gariep Mediclinic en Lenmed Royal Heart-hospitaal. Gariep Mediclinic mag nie verder direk met die media praat oor Covid-19 aangeleenthede nie. 

Voorsorgmaatreëls getref

“Die minister sal dit aankondig sodra daar bevestiging is. Die hospitaal in Jan Kempdorp was tydelik gesluit om voorsorgmaatreëls te tref met almal wat met die vrou in aanraking was. Die hospitaal is nou weer oop en dienslewering gaan voort.”

Vrou het in grasietydperk gereis

Dié vrou het glo in die grasietydperk vanaf 1 tot 7 Mei uit die Oos-Kaap na die Noord-Kaap gereis.

Inwoners wil meer inligting hê

Inwoners van Kimberley, Warrenton en Jan Kempdorp is ontstoke omdat inligting nie oop en eerlik aan hulle deurgegee word nie.

“Ek het gevra hoekom die mense se identiteit nie bekend gemaak word nie, maar hulle sê dis diskriminasie omdat mense dan jou sleg aankyk en sleg behandel,” sê een inwoner van Warrenton op ’n Whatsapp-groep van die omgewing.

’n Ander inwoner sê jy weet nou nie as mense siek is of siek was nie. Dan raak jy self siek as jy met die mens in aanraking was.

Nog ’n inwoner het gesê hulle kan nie werkers in Ganspan gaan optel nie, omdat die mense daar nog getoets moet word.