COVID-19: Deur die oë van ’n bedreigde spesie

Deel hierdie storie / Share this story

Die uwe sal hom vandag weerhou om gebruik te maak van sy chemiese arsenaal wat selfs die immerverontregtes sal laat steier. Maar daar is ’n paar goed wat gesê moet word en die uwe gaan dit sê.

Voor ons begin, laat Muishond net sê alhoewel die uwe hoegenaamd nie met die onredelike, begripslose leier van die land saamstem nie, lei hy nou en daarom moet ons almal volg. Elke keer wanneer iemand anders van die ouetehuis iets oor die kiem kwytraak, gryp MH na die enigste oorblywende getuienis van die 97’ Leeus-toerbottel wyn wat teen dié tyd al driekwart gedrink is. Partykeer dink MH ons president het die groep “Boys to men” gelos om voltyds die land se leier te word. Ma’ dit nou daar gelaat.

Soeke na die kiemdraer

Muishond is ook onseker of enige van julle wat hierdie rubriek lees onderwerp word aan die onderdrukte konsternasie van oorgewig polisiemanne wat hulle septer swaai of die beterwetende Mej. Woolworths wat haar telkemale daaraan skuldig maak om jou met die flambojante leun van reëls blootstel net sodat sy kan beter voel. Moet ook nie vir Mev. Allesdoener vergeet nie. Haar rol in die soeke na die kiemdraer en verspreider word onverpoos voortgesit en sy sal nie rus voordat die kiem vasgepen, gearresteer en toegesluit word vir die moord op OJ Simpson se vrou nie. Die ondersoek duur voort.

Moet familie in Holland hê

Langs die uwe bly so ‘n uitgewaste omie met so ‘n groot voorkop soos ’n kode 14 voorruit en kyk wanneer die uwe weer iets koelbloedig aanvang. Inteendeel, die hele gesin lyk so melerig, ’n mens sal sweer hulle moet familie in Holland hê. Die dogter is so ‘n maer dingetjie met ’n droeë mond en vier broers met sulke groot ore hulle kan die son hoor opkom. Die ma weeg 13 maar haar borsmaat is 40 en sy is feitlik nooit by die huis nie, alewig besig met ’n essential service.

Groen van afguns

Nou dit is ook ongelukkig so dat ons nooit die tegemoetkomende bure is waarvan daar in die Heights gespog word nie. MH het ’n vermakerige vriend wat altyd laat val hoe hy en sy buurman oor en weer mekaar se braaivurk deel. Hulle het selfs ’n leertjie by die muur laat oprig en verwys na mekaar as “buurman”. Dit irriteer die uwe sommer!

Dit is wel so dat die uwe so uitgehonger is vir ’n kuier hy sal selfs na ’n Al Debbo-konsert kyk, ma’ een ding is seker, die uwe en Kode 14 sal nooit vriende wees nie. Hy is een van daardie wat die trompetblasers laat weet as jy ’n private doen. Groen van die afguns.

Voosheid waarmee gestraf

Nou goed, waar was ons? O ja, die korona-ding maak dat Muishond se siel dwaal tussen die kiem wat ons nou kwansuis gaan uitwis en die voosheid waarmee ons gestraf is om nie ’n lafenissie te geniet nie. Tot dusvêr is die uwe ongeskonde met die koelbloedige afkondiging van geen drank. Geen rook. Maar wat Muishond se gathare taai maak, is wanneer ons leier wat lyk asof hy sy klere by Donna Claire koop, sê dat ons moet “sterk staan”. Weet hy hoe lyk Muishond met die Burt Reynolds-look? Weet hy hoe dit voel om elke dag in jou meisie se kop vas te kyk en jy verwar haar haarstyl met two minute noodles? Weet hy hoe dit voel om ’n party by jou huis te hou en daar daag minder mense op as by ’n AWB-kongres? ’n Grap is ’n grap, maar jy sê nie daar word UIF betaal en dan gebeur dit nie.

Oscar gaan al uit wees op parool

Die leier sê ons moet “patience” hê! Die leier sê ons kan in die oggend gaan hardloop, die uwe hardloop nie eers as die polisie hom jaag nie. Oscar gaan uit wees op parool voor sy foon opgradeer, ma’ die uwe moet in die huis sit. Die leier sê ons mag nie meer druk of soen nie, nou as jy vra dat die uwe daai flaminkdingetjie raakpik het hy punt. In elk geval as jy so grillerig is vat net die polisie jou, ma’ sê nou dis Kate Hudson dan laat die uwe homself van alle maagdelikheid ontneem. Vir haar vry ek tot haar bors toetrek.

Tong van vertakte vrou

Hierdie korona-nonsens vat nou langer as ’n Graeme Smith innings en Muishond het genoeg gehad. Nooit weer sal Muishond besoedel word deur die tong van ‘n vertakte ou vrou nie. Hoekom herinner sy die uwe aan daardie laaste hondjie in die pet shop met die hartseer gesiggie? 

Die jaar 2020 sal beslis onthou word vir die ywer waarmee die SAP wetsgehoorsames in smokkelaars verander het. Ongelowiges weer laat glo het en politikusse met vuil handjies dit laat was in onskuld. Muishond is positief oor drie jaar word ou Cyril vervang met iemand wat net pri-primêr geslaag het en dan is ons weer op ons voete.

Onthou in ’n landjie vol tronkvoëls, dring aan op parool. – Korona-groete