KIMBERLEY – Die Noord-Kaapse polisie het die afgelope naweek sy Covid-19-bestrydingsveldtog uitgebrei en het geen steen onaangeroer gelaat nie toe hulle verskeie verdagtes in verband met dwelmhandel in hegtenis geneem het.
Volgens brig. Mohale Ramatsheba, polisiewoordvoerder, het Sondag se inhegtenisnemings op verskeie klopjagte in die Samaria informele nedersetting gevolg.
Hy sê die polisie het beslag gelê op dwelms in verskeie verdagtes se woonplekke. Die waarde daarvan, wat Mandrax-tablette, kristal-metamfetamien en dagga insluit, word op meer as R10 000 beraam.
In ‘n onverwante voorval is ‘n verdagte in ‘n korrektiewe inrigting in Kimberley opgespoor wat gesoek is in verband met diefstal uit ‘n motor in Februarie 2019.
“Meer as 40 voertuie is gestop en deursoek gedurende die statiese padversperring op die N12. Die fokus by dié geleentheid was om te verseker dat motoriste aan die Covid-19 grendel-regulasies voldoen,” het Ramatseba gesê.
Die verdagtes wat vir die handel in dwelms in hegtenis geneem is, sal na verwagting binnekort in Kimberley se landdroshof verskyn.
Die bestuur van die Noord-Kaapse polisiediens het sy lede lof toegeswaai vir hul goeie werk deur wetsoortreders aan die pen te laat ry.








