Met eksamens op hul hakke, het student in die Noord-Kaap steeds geen toegang tot belangrike akademiese materiaal nie. Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap doen dus ‘n beroep op premier Zamani Saul om hoër onderwysinrigtings te help met die ontwikkeling en implementering van versnelde afleweringsprogramme.
Sol Plaatje-universiteit het studente mee gedeel dat akademiese materiaal aan hulle gestuur sou word, maar kon nie verseker dat dit betyds afgelewer kon word nie. Aangesien akademiese materiaal en skryfbehoeftes op vlak vier verkoop en versprei mag word, behoort dit dus relatief maklik te wees om koerierdienste te gebruik om materiaal betyds by studente uit te kry.
Studente het tans nie toegang tot hul boeke en geheuestokkies nie, omdat universiteitsbestuur hul aangeraai het om akademiese materiaal in kampuskoshuise te los. Toe die koshuise in Maart 2020 voor die inperlingsperiode ontruim is, was daar immers verwag dat studente binne weke sou terugkeer. En enigiemand wat al openbare vervoer gebruik het, sal insien dat dit onprakties is vir studente om al hul handleidings en boeke in een reis saam te neem.
Omdat die hervatting van normale kampusaktiwiteite as gevaarlik beskou word, mag slegs studente in hul finale jaar van kliniese opleiding egter terugkeer.
Volgens die klagtes wat van studente ontvang word, is dit moeilik om reëlings te tref vir toegang tot studiemateriaal. Studente moet voorberei vir hul eksamens en is dus angstig om hul boeke, klasnotas, en geheuestokkies te kry sodat hulle hul akademiese doelwitte kan bereik.
Aanlynstudies kan nie die probleem oplos nie. Studente kla dat die aanlynplatforms wat Noord-Kaapse kollegas en die Universiteit gebruik, nie gereeld die nodige inligting verskaf nie. Selfs die Minister van Hoër Onderwys het tydens April 2020 reeds toegegee dat probleme met aanlynstudies meebring dat studente toegang tot gedrukte middels moet bekom. As studente nie self hierdie materiaal kan afhaal nie, moet daar ‘n plan gemaak word om dit by hul af te lewer.
Ons doen ook ‘n beroep op universiteitsbestuur om streng toegangbeheer toe te pas wanneer kampuskoshuise skoongemaak word. Sekuriteitsmaatreëlings moet gehandhaaf word om te keer dat vreemdelinge ongemagtigde toegang verkry.
Ons kan nie sonder meer aanvaar dat die akademiese drone van studente sneuwel in die stryd teen die koronavirus nie. Boeke hoort immers nooit agter slot en grendel nie.



