BLOEMFONTEIN – Die son skyn weer op die Bloemfontein-dieretuin se diere nadat verskeie diere, onder andere tiere, leeus, primate, voëls, luiperds en Afrika-wildehonde geluk by hulle nuwe woning gevind het.
Dit volg nadat die dieretuin se deure twee maande gelede gesluit is.
Volgens ’n persverklaring deur die Bloemfontein-DBV was die tiere die moeilikste om uit kry aangesien hulle slaapgebied 2 m onder water was.
“Dankie Hannes Meyer dat jy dadelik tot ons redding gekom het en die water uitgepomp het. Hannes, Danie en Derrick het twee dae lank water gepomp. Ons waardeer julle hulp en moeite,” lui die persverklaring.
Die tier-boeties, Shevar en Sharukh, is nou in hulle kamp vrygelaat en hulle hou glo van hul nuwe omgewing op Lionsrock.
Love Lions Alive Project Sanctuary is trots om by die redding en hervestiging van vier groot katte betrokke te kon wees.
Die DBV sê: “Baie dankie aan Birds of Eden, Monkeyland en Jukani vir die inneem van die ape, voëls en ’n wildehond.”
Die DBV bedank ook vir dr. Johan Joubert en Glen Vera van Born Free op Shamwari dat hulle die twee luiperds ingeneem het.
Drs. Karin Lourens, Nicci Wright en Lauren Beckley van die Wildlife Veterinary Hospital in Johannesburg word ook vir hulle harde werk en hulp met die versorging van die diere bedank.
“Baie dankie aan Mornay Ludicke van Feedgrow vir die versorging van die takbokke. Asook vir De Wildt wat twee hiënas in geneem het,” sluit die DBV sy persverklaring af.
























