KIMBERLEY. – Vyf mense in Kimberley het positief vir die Covid-19 virus getoets.
Vier van dié pasiënte is in die Gariep Mediclinic opgeneem. Nog ‘n pasiënt is in die KimMed opgeneem.
Denise Coetzee, woordvoerder van die Gariep Mediclinic, sê die toetse vir die vier pasiënte in Gariep Mediclinic, is Vrydagoggend, 1 Mei, ontvang.
“Al vier pasiënte is in isolasie. Die departement van gesondheid het voorsorgmaatreëls in plek om die situasie te hanteer. Almal wie in kontak was, sal opgespoor en sal in isolasie geplaas word.”
Willie Wiid, direkteur van KimMed, het bevestig die pasiënt is Woensdag in die hospitaal opgeneem. Die pasiënt is ‘n psigiatriese pasiënt. “Ons het hom gelukkig van die begin af voorkomend hanteer. Hy is nou in ‘n isolasie-kamer.” Die pasiënt sal môre na Gariep Mediclinic oorgeplaas word. “Dit is ‘n hele proses wat gevolg moet word. Die departement van gesondheid is betrokke en hulle oorsien die proses.”
Wiid sê die hospitaal het ‘n spesiale protokol in plek wat sy werknemers en pasiënte beskerm. “Al ons personeel wie met hom in kontak was, word getoets en ons sal dit hanteer.”
Hector McKay, bestuurder van Lenmed in Kimberley, sê daar is steeds geen positiewe gevalle by Lenmed nie.



