NOORD-KAAP – Inwoners op Orania, die Afrikanerdorp langs die Oranjerivier in die Karoostreek in die Noord-Kaap, volg streng maatreëls en is ook soos die res van die land ingeperk om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.
Annemarie Hoogenboezem, woordvoerder van die Orania Beweging sê sosiale distansiëring word in Orania geïmplementeer deurdat inwoners soos in die res van die land nie hul huise mag verlaat behalwe vir die noodsaaklike aankope soos kos en mediese voorraad nie.
Sy sê: “Supermarkte soos OK Minimark het verskeie maatreëls geïmplementeer om te verseker dat klante afstand vanaf mekaar handhaaf, nie onnodig praatjies aanknoop in die winkel nie en dat die winkel ten alle tye absoluut skoon is. Inwoners word ook aangemoedig om maskers te dra wanneer hulle in die openbaar verskyn.”
Onderrig gaan voort
Hoogenboezem sê: “Alhoewel skole vir leerders en personeel gesluit is, gaan albei skole, Volkskool en CVO-Skool, onverstoord voort met hul werksaamhede deur middel van aanlyn platvorms. Volkskool het hul AfstandLeer-Plus produk en CVO-Skool hulle splinternuwe Kuberskool-produk. Ander nie-noodsaaklike besighede is gesluit.”
Nog geen Covid-19
Volgens ’n e-nuusbrief omsendbrief wat op 21 April aan inwoners gestuur is, is daar tot dusver steeds geen gevalle van Covid-19 in Orania nie. Intussen vergader die Nood-Operasionele Sentrum (NOS) steeds drie keer per week en handhaaf goeie kommunikasie met mekaar om so spoedig moontlik te kan optree indien dit nodig raak.



