KIMBERLEY – “My driejarige was hier binne aan die speel en ek was op my rekenaar besig toe ek die boodskap op WhatsApp ontvang het. Die buurman het hulle met ’n toolboks en ’n fiets by die hek sien uithardloop,” sê ’n inwoner van Jamesonlaan in Rhodesdene.
Die inwoner, wat uit vrees vir viktimisasie nie haar naam genoem wil hê nie, sê haar buurman het om 09:10 vanoggend vir haar ’n boodskap gestuur om te sê hulle motorhuis se deur staan oop.
Toe sy en haar man in die motorhuis gaan ondersoek instel, het hulle opgemerk hulle Silverback-fiets, ’n gereedskapkas, kampstoele en ’n drukspuit is vermis.
Die buurman het volgens die inwoner ’n kamerastelsel wat hulle hopelik kan gebruik om die inbrekers op te spoor.
“Daar was volgens die buurman vier verdagtes. Toe hy hulle op die kamera raaksien, het hy na buite gegaan. Hulle het hulle vinnig uit die voete gemaak toe hulle hom raaksien.”
Henk Coetzee, van Rhodesdene se buurtwaggroep, het vinnig reageer toe hy inligting oor die diewe ontvang het. Die inwoner sê hy was binne minute op die toneel en het rondgery om te kyk of hy nie miskien die inbrekers iewers kon vaskeer nie.
Die inwoner is bekommerd oor die inbrekers moontlik na hulle woning kan terugkeer.
“Daar het nog goed soos ’n grassnyer by die garage se deur gestaan. Hulle was besig om nog ’n klomp goed bymekaar te maak om hier weg te dra. Ek is bekommerd, want omdat hulle nou weet wat hier alles in die huis is, mag hulle dalk besluit om terug te kom,” sê sy. Die inbrekers het ook hulle motor se enjinkap probeer oopmaak. Sy weet nie of hulle die battery of dalk selfs die kar ook wou steel nie.
Die inwoner voel dis belangrik vir ander Kimberliete om op die uitkyk te wees vir diewe gedurende hierdie tydperk. Sy meen hulle soek geld om kos te koop en daarom is hulle besig om enigiets te soek om te steel om weer te verkoop.
“Ons tref nou maar reëlings om die slotte in en om die huis te vervang. Ons wag nou vir die polisie om vingerafdrukke te kom neem.”
“Die buurtwaggroepe help verskriklik baie. Wanneer die polisie lank vat om by jou uit te kom, het dié groepe lankal ’n plan beraam en na die inbrekers in die area begin soek.”





