KIMBERLEY – Tiaan Erasmus, die hoofseun van Hoërskool Adamantia in Kimberley, is al vir 13 jaar ’n lid van die Voortrekkers. Die kommando waaraan hy behoort, Rocco Knobel in Kimberley, is trots dat hy ten spyte van die inperking in die land, steeds dié eksamen kon aflê.
Erasmus is die enigste Voortrekker in die Noord-Kaap wat vanjaar hierdie eksamen afgelê het. Hy sê die hele land se verkenners wat die eksamen afgelê het, gaan later in die jaar vir ’n week in die Kaap gaan kamp en deur allerhande aktiwiteite die ander deel van die eksamen aflê. Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat die verkenners die teoretiese deel van die eksamen tuis afgelê het.
Die presidentsverkenner-toekenning is die hoogste toekenning in die Voortrekkers en word op nasionale vlak gekrediteer. Erasmus het die eerste deel van die eksamen geslaag en sodra hy die presidentsverkenner-kamp bygewoon het, sal hy ‘n trotse PV wees.
“Om hierdie eksamen by die huis af te lê, verg baie selfdissipline en integriteit. Omdat niemand jou regtig dophou nie, sou dit maklik wees om te cheat. Dit het vreemd gevoel om so ’n belangrike toets by die huis te skryf, maar ek is darem goed deur! Ek sien uit daarna om die tweede deel van die eksamen te voltooi,” sê die trotse Addie.





