Solidariteit maak Covid-19- ekonomiese herstelplan bekend

Deel hierdie storie / Share this story

Solidariteit het vandag sy Covid-19- ekonomiese herstelplan bekendgemaak. Hierdie plan bied ʼn omvattende ontleding van vorige ekonomiese krisisse en hoe Suid-Afrika se reaksie in die verlede tot stagnasie en swak groei gelei het. Die plan bevat ook voorstelle vir hoe om op hierdie kritiese tydstip nou die regte besluite te neem.

Solidariteit se plan is oor die naweek aan die president en ministers Ebrahim Patel en Tito Mboweni gestuur. 

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, verduidelik: “Ons planne hanteer elke aspek van die ekonomie.”

Volgens Solidariteit se ekonomiese herstelplan moet Suid-Afrika dringend werk maak daarvan om ʼn meer dinamiese arbeidsomgewing te skep. Die sakewêreld moet bevry word van onderdrukkende regulasies en handelsbeperkings. Verder moet Suid-Afrika se fiskale posisie verbeter word deur te sny aan staatsbesteding en ontslae te raak van alle nie-noodsaklike staatsbeheerde instellings. Meer geld moet ook in Suid-Afrikaners se sakke geplaas word deur die belastinglas te verlig. Verder is dit volgens die plan ononderhandelbaar dat skadelike beleid wat vertroue en sekerheid ondermyn, soos byvoorbeeld onteiening sonder vergoeding en die nasionale gesondheidsversekering onmiddellik verwerp moet word. Laastens word die absolute behoefte om Suid-Afrika se energiesektor te desentraliseer in die Solidariteit-plan uitgelig.
 
Volgens Solidariteit moet bekommernisse oor die ekonomie nie beoordeel word aan die hand van ʼn verruiling tussen gesondheid en rykdom nie. Dit is twee verwante en onderling afhanklike eienskappe van menslike welstand.

“Die debat oor Covid-19 moet ekonomie en werk insluit. Die virus kan nie beveg word sonder ekonomie nie en die ekonomie kan nie groei as die virus nie suksesvol beveg word nie. Daar moenie ʼn keuse gemaak word tussen gesondheid en ekonomie nie – die keuse is ten gunste van albei. Trouens, die belangrikste aspek van enige ekonomiese stimulus is ʼn oorwinning oor die virus. Ons moet so gou as moontlik die bedreiging wat die virus inhou, bekamp sodat ons weer die ekonomie aan die gang kan kry en verseker dat die inperking nie ʼn enkele dag langer voortduur as wat nodig is nie,” sê Hermann.

Hierdie plan verteenwoordig die laaste van drie omvattende planne wat onderskeidelik strategieë bekendmaak in verband met die bestryding van die virus, werk tydens inperking en vir die ekonomie ná die inperking.

“Solidariteit se Covid-19-plan staan op drie bene. Die eerste been is onverskrokke weerstand teen die virus. Ons moedig ons lede wyd aan om praktyke om die virus te bekamp, streng na te kom. Die tweede is ʼn onverskrokke dryfkrag ten gunste van werk. Solidariteit beskou alle werk as noodsaaklik en glo almal wat gesond kan werk, moet werk. Daarom het Solidariteit ʼn omvattende goeie praktykskode vir gesonde werk aan die regering voorgehou. Die derde is ʼn onverskrokke verbintenis tot die herstel van die ekonomie. Solidariteit het ʼn ekonomiese herstelplan, met lesse wat van ekonomiese wenlande geleer kan word, aan die regering oorhandig,” sê Hermann.

“Hierdie plan dien as Solidariteit se inset tot die kabinet en die bevelsraad se vergadering op Maandag 20 April. Ons planne is gegrond in ʼn geskiedkundige ontleding van globale tendense wat wêreldwyd tot sukses gelei het. Dit sluit wetenskaplike ekonomiese teorieë in en bied werkbare oplossings in ʼn tyd wat sulke antwoorde noodsaaklik is,” sluit Hermann af.

Om Solidariteit se brief aan die President en die tersaaklike Ministers te lees klik hier
 
Om Solidariteit se Post-inperking Ekonomiese Herstelplan te lees klik hier
 
Morné Malan
Solidariteit Strategiese Spesialis
066 224 0368
[email protected]