FRANKRYK. – Nadine Coetzer woon saam met haar man, Cilliers Coetzer, in Moliets-et-Maa, ‘n kusdorpie in die suidweste van Frankryk. Cilliers is ‘n oud-Griekwaspeler en Nadine het as ‘n joernalis vir die DFA in Kimberley gewerk.
Frankryk se dodetal weens die koronavirus-epidemie staan tans op 19 718.
Alhoewel dié dorpie, wat ongeveer 150 km suid van Bordeaux is, slegs 1000 inwoners het, sak daar in die somer 40 000 vakansiegangers op die dorp toe. Die dorp is ‘n populêre branderplankry-bestemming in Europa.
Nadine vertel FiND iT hoe die inperking by hulle werk en hoe sy voel oor dierebeskerming – onder andere die dieremarkte in China.

Nadine in die somermaande in Frankryk.
Wanneer het die Covid-19 krisis ‘n impak op jou lewe gehad?
“Ek het geweet dis ernstig toe die Franse ophou om mekaar te soengroet, so teen einde Februarie. Ek gee Engelse klasse by die plaaslike besigheidskamer en somtyds by besighede self. Begin Maart moes ek ‘n masker dra by seker besighede en die inperking het offisieël die 16de Maart in Frankryk begin. Van daardie datum af het ek van die huis af begin werk en ek gee tans Engelse klasse aanlyn. Die inperking is verleng tot die 11de Mei.”
Hoe hanteer julle regering dit?
“Die regering doen soveel as moontlik om almal te help deur fondse beskikbaar te stel vir klein besighede en om belasting uit te stel vir die wat dit nie kan bekostig nie. Banke gee ook rentevrye lenings aan besighede en die betaling van huislenings kan uitgestel word tot en met ‘n jaar. Die sielkundige impak van die pandemie is nog nie duidelik nie, maar ek kan aanvoel dat mense bang is. Die dodetal staan huidiglik op meer as 19 718, so dit is te verstane dat mense paniekerig is.”
Hoe werk dit as jy winkel toe gaan?
“Ons dra maskers as ons gaan inkopies doen of poskantoor toe gaan. Daar is nou meer sekuriteitswagte as gewoonlik, wat toesien dat die veiligheidafstand tussen mense gehou word.
“Daar is nie enige tekorte hier nie, alhoewel ek gehoor het dat daar tekorte was soos rys, pasta en toiletpapier net voor die inperking.
“Daar is geen verbod op die koop van drank en sigarette nie. Die Franse mag ook met hul honde gaan stap en ‘n uur per dag gaan oefen binne ‘n 2km radius van hul huis. Dit sluit die strand vir ons in, maar ongelukkig het die polisie die strande toegemaak omdat dit te veel mense lok. Ons moet ook elke keer wat ons uitgaan ‘n beëdigde verklaring by ons hê wat die rede spesifiseer waarom ons uitgaan, asook ons adres en die tyd wat ons uitgaan en hoe laat ons beplan om terug te wees.”
Is jy in die tyd meer home sick?
“Ja, dis baie moeilik om so ver weg te wees van familie onder hierdie omstandighede en veral omdat ‘n mens nie nou mag vlieg as jou familie jou nodig het nie.”
Wat doen jou man en mag hy werk?
“My man doen restourasie en bouwerk en hy mag werk mits hy ‘n masker dra en sy sosiale afstand hou. Daar was wel ‘n tekort aan materiaal die afgelope paar weke wat sy werk vertraag het.”
Hoe beïnvloed die inperking julle finansieël?
“Ons huur gewoonlik ons huis in die somer op AirBnB uit. Ons kan nie die jaar ons huis verhuur nie, as gevolg van die pandemie. Dit beteken dat ons ongeveer 20% van ons jaarlikse inkomste gaan verloor.”
Watter nuus lees jy?
“Ek lees/kyk te veel nuus op die oomblik, dis seker die joernalis in my wat wil weet wat aangaan. Ek kyk elke dag Franse nuus, BBC, asook CNN. Ek bly ook op hoogte met SA nuus deur BusinessTech, Bloomberg en Maroela Media te lees.”
Wat dink jy is die effek van die uitbraak op die ekonomie?
“Die inperking het katastrofiese gevolge op die ekonomie, ek het onlangs gelees dat die land ongeveer 60 miljard € per maand verloor met die inperking. Frankryk is een van die gewildste vakansiebestemmings in die wêreld en toerisme speel ‘n groot rol in die ekonomie – ‘n sektor wat nou bitter swaarkry en sekerlik ook lank gaan vat om te herstel.
“Wat vir my uitstaan is die feit dat allés in die wêreld verwant is aan mekaar. Die eksotiese dieremarkte in China wat gepaard gaan met soveel wreedheid en dieremishandeling het ‘n invloed op ons almal. Ons kan nie langer wegkyk net omdat dit ons ongemaklik en hartseer laat voel nie. Die wêreld moet China forseer om dit vir eens en vir altyd te stop.”
“We’re all interconnected and what you do to the environment ultimately you do to yourself.” – Ian Somerhalder.
“Op SA-bodem moet ons self kyk hoe ons die aarde en diere behandel, soos die feit dat mense aanhou betaal om selfies te neem saam met leeuwelpies by leeuparke ten spyte van die feit dat dit die geblikte-leeujagindustrie verryk en dieremishandeling bevorder.”
Dis hoe dit by hulle lyk. Doodstil.



