AUSTRALIË. – Karin Haasbroek, oud-Kimberliet, woon deesdae saam met haar man, Johan en drie kinders, Liesl (22), Jana (21) en Dirk (18), in Perth, Wes-Australië.
FiND iT het by haar gaan inloer oor hoe hulle die wêreldwye #lockdown daar ervaar.
Vertel ons van waar jy woon?
“Ek woon in Perth, Wes Australie. Perth het ‘n populasie van 1.9 mijoen inwoners, waarvan 36% in die buiteland gebore is. Perth word gesien as die mees geisoleerde stad in die wêreld, met die naaste stad met >100 000 inwoners meer as 2,100 km weg. – Dis Adelaide, in Suid Australie.”
Wanneer het die Covid-19 uitbraak ‘n effek op jou lewe gehad?
“Einde Februarie was ek in Nieu-Seeland (werk en toer) en het daagliks die Covid-nuus gevolg. Teen begin Maart het ek besef dat ek vroeër sal moet terugkeer na Perth omdat minder vlugte beskikbaar was en omdat die Australiese regering versoek het dat mense terugkeer voordat grense gesluit word. In Perth moes ek ‘n twee weke self-isolasie doen waar ek in ‘n woonarea moes bly weg van my gesin.”
Hoe hanteer julle land dit?
“Australië se daaglikse nuwe infeksie-gevalle is besig om geleidelik minder te word. Ons het in totaal amper 6500 gevalle sover met ongeveer 70 sterftes. Meer as 380 000 Covid-toetse is al regoor Australie gedoen.
“Die regering se maatreëls was hoofsaaklik om die land se grense te sluit, provinsiale grense te sluit, publieke byeenkomste te staak en verbied en om wyd te toets en om alle kontakte op te volg van positiewe gevalle.
“Alle restaurante, klerewinkels, flieks, gimnasiums ens. is gesluit. Net noodsaaklike besighede is oop. Ek mag net my huis verlaat om noodsaaklikhede te koop of vir oefening (of die hond te stap!). Ek moet deurentyd ‘n afstand van 1.5m van ander af hou, ook in die winkels, parke en op die strand. Sosiale distansiëring word baie ernstig opgeneem. ‘n Maksimum van twee mense kan saam oefen of stap of gaan swem – ons strande is nog oop, maar in Sydney is die strande ook toegemaak.”
“Ons skole het tot met die April-vakansie oopgebly, want die regering het gevoel dat kinders moet aangaan met hul opvoeding, dat kinders nie ernstig siek raak nie en dat ouers wat in noodsaaklike dienste en gesondheidsorg werk nie nog self na hul kinders ook moet omsien nie.
“Australië se grootse Covid-probleem is die verskeie groot, internasionale passasierbote wat hier vasgemeer het (selfs sonder toestemming!) met baie positiewe en selfs kritieke gevalle aan boord.”
Gaan jy uit met ‘n masker en hoe werk dit as jy werk toe gaan of wil gaan inkopies doen?
“As ek by die kruidenierswinkel aankom staan ek in ‘n ry buite, 1.5m agter die persoon voor my. Daar word net ‘n sekere hoeveelheid mense op ‘n slag in die supermark toegelaat. ‘n Assistent ontsmet die kruidenierswaentjie voordat ek dit neem. Ek koop my kruideniers maar probeer om nie onnodig aan goed te raak nie. Daar mag ‘n maksimum van vier mense in ‘n winkelgang wees. Met betaling moet afstande van 1.5m gehou word (daar is merke op die vloer gemaak om afstande aan te dui). Betalings moet verkieslik per kaart (en nie kontant) gedoen word. Ek moet ook self my kruideniers in my sakke pak (haha, dis meestal in elk geval so!)
“Ons het min positiewe gevalle in Perth (80% is bogenoemde passasiers van die groot bote af wat reguit hospitale toe is), so ek dra nie ‘n masker winkels toe.
“Ek is ‘n veearts en ons werk tans met maskers aan om ons te beskerm in die klein spasie/kamer waar ons konsulteer. Ons het ons span van drie veeartse en vier verpleegsters in twee groepe opgedeel met ‘n ‘all-in-all-out’ beleid. Ons sien steeds verskeie pasiënte per dag, maar ons het konsultasies beperk tot noodsaaklike besoeke en geen roetine-werk nie. Ons laat ook tans net een eienaar (kliënt) per konsultasie toe, wat soms baie moeilik is as ons ‘n ou pasiënt moet uitsit en die hele familie kan nie bystaan nie (soos wat die Aussies dit verkies). Troeteldiere is ‘n baie belangrike, groot deel van gesinne hier (Australie is die land met die grootste ‘pet ownership’ in die wêreld).”
Hoe lyk julle winkels?
“Die inkopiesentrums is doodstil, want slegs die kruidenierswinkels, apteke en hardeware winkels is oop. En natuurlik drankwinkels by ons is oop. ☺”
Hoe doen Aus dinge anders as bv. Suid-Afrika?
“Ek dink oor die algemeen is die regulasies baie dieselfde. Die Australiese regering is dalk meer prominent en sigbaar met hulle riglyne met daaglikse perskonferensies en mediadekking op federale en provinsiale vlak.
“Ek dink dis makliker om riglyne toe te pas hier, want Australië is baie wyd, groot dele is ylbevolk en selfs in die stede is daar relatief minder woonstelblokke en massa-akkomodasie as in bv. Europa. Australië het ook nie die informele nedersettings van Suid-Afrika nie.
“Maar Australië het nie die ongelooflike Suid-Afrikaanse humorsin waarmee ook die Covid-19 krisis aangepak word nie. Ek breek myself vir al die nuwe kwinkslae, grappe, liedjies ens. wat ek op die Suid-Afrikaanse sosiale media raakloop!”
Voel jy meer home sick in hierdie tyd?
“Definitief! Ek dink dit is omdat hierdie krisis mens net weer laat besef hoe kosbaar jou familie, jou wortels, jou hartsland is en hoe broos en klein die ek as individu is. Ek dink mens verlang ook meer omdat mens meer besorg is oor jou mense tuis en omdat mens skielik net weer besin oor so baie dinge in die lewe… en skielik het ons genoeg tyd op ons hande om te besin.”
Hoe ervaar jou kinders dit?
“My baie sosiale oudste meisiekind kry bitter swaar! Sy mag skielik nie vriende oornooi nie, so sy kuier maar met hulle in ‘n ‘group chat’ op die rekenaar of nooi een op ‘n slag vir n stap (oefen?) met ‘n wegneemkoffie.
“Die ander twee kinders is rustiger oor die situasie – die een slaap meer en die ander een oefen meer.”
Waar lees jy jou nuus elke dag? Hoe bly jy op hoogte?
“Ek lees daagliks Maroela Media aanlyn om te sien wat in Suid Afrika gebeur.
“Verder volg ek verskeie nuus stasies deur Facebook wat kort-kort die nuutse berigte deel, bv. Nine News Perth, Al Jazeera World News en New York Times.”
Hoe dink jy gaan die lockdown die ekonomie van julle land beïnvloed?
“Ek dink alle lande gaan baie nadelig beïnvloed word. Ons werkloosheid is gewoonlik onder 5% en dit het reeds geklim na 10%.
“Die regering het derduisende dollars bewillig om mense te help met inkomstes, lone, huur ens tydens hierdie pandemie. En die effek hiervan gaan op baie vlakke vir nog baie lank gevoel word. Ek dink baie klein besighede gaan nie weer op die been kom nie.
“Maar, hopelik gaan hierdie lockdown ons motiveer om weer meer ondersteuning te gee aan ‘made in Australia’. En miskien kan dit die motivering wees om weer meer innoverend te wees en dat meer produkte weer op eie bodem geproduseer word.”
Wat van die tyd staan vir jou uit – gesamentlike bewustheid van almal in die wêreld bv.
“Ek kyk gefassineerd na die kontras in leierskap van groot moonthede. En hoe meer onbekende leiers van kleiner lande skielik sterk en eerbaar na vore tree bv. leierskap in Nieu-Seeland.
“Ek is dankbaar vir die geleenthede nou om weer fyner ingestel te wees op my geliefdes – miskien omdat ons meer tyd het, maar dalk ook omdat mens se gesindheid verander het met die krisis wat almal raak.
“Ek is ook dankbaar vir die geleentheid om ander te help – blomme by die ouetehuis, ete vir ‘n gesin, volunteer by die Native Wildlife Centre ens.
“Jane Goodall (Britse primatoloog en antropoloog) het gesê:
‘What you do makes a difference, and you have to decide what kind of difference you want to make.’
“Ek glo hierdie is ‘n tyd waar ons almal moet besluit watse verskil ons gaan maak.”
Hier wys Karin hoe dit in die straat naby haar huis lyk:



