DA veroordeel vandalisering van NK-skole

Deel hierdie storie / Share this story

Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap veroordeel die vandalisering van skole in die Noord-Kaap en ons doen ‘n beroep op lede van die gemeenskap wat in die omgewing van skole woon om ekstra waaksaam te wees en om alle verdagte aktiwiteite by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan te meld.

Ons neem kennis van die bevestiging deur die LUR van onderwys, Mac Jack, dat voorvalle van vandalisme en diefstal by 26 skole in die provinsie plaasgevind het. Ons neem ook kennis van talle berigte deur skole wat op ’n byna daaglikse basis pogings tot inbrake beveg.

Ons is kwaad en teleurgesteld oor hierdie statistieke.

Dit wys dat daar steeds te veel mense is wat die inperkingsperiode se regulasies verontagsaam. In werklikheid verdun hulle die land se broodnodige polisiemag wat eerder aandag aan die oorlog teen Covid-19 moet gee, in plaas daarvan om inbrake te probeer voorkom en selfsugtige, kleinlike misdadigers te vang.

Nie net stel hierdie misdadige elemente hulself en mede-gemeenskapslede bloot aan die verspreiding van die koronavirus deur om aan kriminele aktiwiteite deel te neem nie, maar hulle bedreig ook die reeds onstabiele opvoeding van ons leerders.

Die koronavirus het ons daaglikse lewe kwaadwillig onderbreek en leerders summier uit die skool getrek. Alhoewel dit baie nodig was, was dit ’n skok vir ons stelsels. Ons word gekonfronteer met ’n ongekende bedreiging wat nog nooit tevore ervaar is nie. Die onsekerheid wat met die koronavirus gepaard gaan, het ook groot angs vir skoolkinders veroorsaak. Hoeveel meer lyding sal ons kinders moet verduur as hulle eendag terug skool toe is, net om agter te kom dat hul skole niks anders as leë doppe is nie?

Die DA doen ’n beroep op almal om ons skole te beskerm. Alhoewel u nie die skole fisies mag polisieer nie, is dit u morele verpligting om die polisie in te lig as u van iemand weet wat ons skole aanval, of as u enige verdagte aktiwiteite by skole in u omgewing sien. Asseblief, doen dit vir ons kinders.

Ons kinders sal alle moontlike ondersteuning benodig wanneer skole weer oopmaak. Laat ons almal help deur die reis vir hulle te vergemaklik deur ’n nuwe krisis bo en behalwe die reeds verwoestende koronavirus-ramp te verhoed.