Verdagte breek in en “soek diamante”

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – ’n Vrou het na bewering gisteraand hier in Carringtonstraat by ’n erf ingebreek.

Die eienaar van die huis sê hulle hond het omstreeks 02:30 begin blaf. “Ons het toe agtergekom daar is iemand op ons stoep. Ons het dadelik die polisie gebel en die sekuriteitsmaatskappy was ook vinnig op die toneel,” vertel die inwoner. Die inwoner se identiteit word beskerm.

“Die vrou het gesê sy soek glo diamante. Nadat sy weggeneem is, het ons gesien sy het ’n hoop goed bymekaar gepak, onder andere visstokke.”

Die eienaar vermoed die vrou het toegang tot die erf deur hulle voorhek gekry, nadat dié hek in die haelstorm beskadig is.

Dit is hoe die vrou na bewering lyk. Die buurtwag het ook ander inwoners gewaarsku oor die vrou se doen en late. Sy het ewe ‘n masker oor haar mond en neus aangehad.