Afstandsonderrig: Onderwyseres praat

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – “Ja, die inperking hou nadele vir onderwysers en leerlinge in. Daar is egter ook voordele aan afstandsonderrig. Elke leerling kan teen sy of haar eie tempo werk en ek, as onderwyseres, het ook baie meer tyd om my werk klaar te kry,” sê ’n onderwyseres van Kimberley.

Sy is al vir 40 jaar ’n onderwyseres en deel haar gevoel oor die inperking en hoe dit haar beïnvloed.

Die skole in die land sou aan die einde van Maart heropen, maar weens die verlenging van die inperking tot aan die einde van April, is daar nou geen versekering dat die skole dan sal open nie.

Die onderwyseres sê die matrieks sal steeds eksamen skryf en daar word tans verskillende opsies oorweeg. Baie skole het aan die leerlinge werk uitgedeel om gedurende die tydperk tuis te voltooi.

“Wat my egter bekommer, is die feit dat sommige leerlinge nie toegang tot die internet het nie. Onderwysers het ook nie al hulle leerlinge se selfoonnomers nie, wat kommunikasie tussen die leerlinge en hulle onderwysers bemoeilik. Die hele skoolprogram het tot stilstannd gekom,” sê sy. “Wat wel van ouers verwag kan word, is om seker te maak hulle kinders het die benodighede om aanlyn te kan werk.”

Die onderwyseres maak ’n punt daarvan om duidelike instruksies oor huiswerk aan haar leerlinge te stuur. Sy reken indien haar leerlinge die inligting voltooi en deurwerk soos dit van hulle verwag word, hulle nie sal agter raak nie.

“Ek moes my metodes van klasgee effens aanpas, maar dit werk vir my goed,” sê sy. “Natuurlik is daar ’n paar leerlinge wat die inperking as ’n vakansie sien en geen werk voltooi nie, maar hulle sal die vrugte pluk wanneer die skool heropen.”

Sy sê alhoewel haar salaris deur die department betaal word, is daar sommige onderwysers wat deur skole self betaal word en wanneer ouers nie skoolfonds kan betaal nie, sal daar nie fondse wees vir hulle salarisse nie.

“Dis noodsaaklik vir ouers en leerlinge om te verstaan dat die afstandsonderrig slegs suksesvol kan wees wanneer almal hulle samewerking gee. Ouers behoort hul kinders van die nodige hulpmiddels te voorsien, onderwysers behoort beskikbaar te wees wanneer dit nodig is en leerlinge behoort werksopdragte te voltooi tot die beste van hul vermoë.”