Wanneer jy die woord droom gebruik, gebruik jy dit gewoonlik in ‘n positiewe sin. Jy beskryf gewoonlik iets waarvan jy hou of jou perfekte toekomsverwagting. Om eendag met jou droomvrou te trou, jou droomkar te ry en in jou droomhuis te bly…
‘n Regte droom, die een wat jy ervaar wanneer jy slaap, kan omskryf word as die verskyning van beelde, klanke, idees, gevoelens of sensasies.
Teorieë oor drome & waar hulle vandaan kom
Drome is nie altyd net realisties nie. Soms gebeur dinge in jou drome wat in die werklike lewe nooit sal gebeur nie. Die dromer is gewoonlik die hoofkarakter in sy droom, wat dit maklik maak om die intense gevoelens van dié karakter eerstehands te ervaar.
Die dromer is nie altyd in beheer oor hoe die droom afloop of die karakter se optrede nie.
Daar is verskeie teorieë oor die interpretasie van drome en hoe hulle ontstaan.
Die koninklike pad na die onderbewussyn
Sigmund Freud, een van die vaders van die moderne sielkunde, het dié teorie begin. Hy het geglo ‘n droom is the royal road to the unconscious. Freud het een van sy eie drome ontleed en tot die gevolgtrekking gekom drome is die vervulling van versteekte wense. Hy was vas oortuig dat drome baie belangrik is om die mens se onderbewussyn te kan verstaan.
Die REM-fase
Daar is verskillende fases van die proses om aan die slaap te raak. Fisiologies gesproke, funksioneer die liggaam en veral die brein anders wanneer ‘n persoon in die eerste fase (REM) is. Wanneer jy wakker is, stuur en ontvang jou brein voortdurend boodskappe. Wanneer jy in die bed klim en jou brein begin afskakel, vervang jou brein hierdie aktiwiteite met drome.
Ander teorieë
Eksterne stimuli beïnvloed wat in ‘n droom gebeur. Hierdie teorie stel voor dat enige eksterne faktore,
byvoorbeeld die klank van ‘n radio wat langs die dromer speel, sy droom beïnvloed.
Sommiges glo weer drome is ‘n manier om van die rommel in jou brein ontslae te raak. Om homself voor te berei op
die volgende dag, probeer jou brein van oortollige, irrelevante en onbelangrike gedagtes en gevoelens ontslae raak.
Drome is ‘n weerspieëling van die dromer se binneste in daardie spesifieke stadium van sy of haar lewe. Sommige emosies, gevoelens of vrese bly aan die einde van die dag in die dromer se onderbewussyn agter. ‘n Droom is in dié geval die brein se manier om ‘n duideliker beeld te skep van wat in die dromer se hart aan die gebeur is.
Volgens baie van hierdie teorieë is dit dus wel moontlik om, deur bewus te wees van emosies, gevoelens en omstandighede, ‘n droom te interpreteer.



